Teen die tyd dat Februarie aanbreek, is mense se nukkerigheid omdat die somervakansie te gou verby is iets van die verlede.
Teen dan is die nuwejaars-voornemens ’n bekende roetine, of is daar reeds aanvaar dat dit sommer net spookasem was.
Februarie is kort en kragtig, tog toonaangewend van gebeure vir die res van die jaar. Die fokus verskuif na die jaar se renbaan en sy oorblywende 11 hekkies.
Rigtingwysers vir die jaar kom veral van die president se staatsrede wat gelewer is; gevolg deur die provinsiale redes van die nege premiers.
In ’n meningstuk op Netwerk24 verwys Johanna van Eeden, meningsredakteur van Beeld en Die Burger, na ’n RSG-luisteraar wat pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede van twee weke gelede as “blah-blah-blah” beskryf.
Tog, skryf Van Eeden, is daar optimisme ná die staatsrede. Die regte pynpunte is geïdentifiseer en meer detail gegee oor hoe die probleme opgelos gaan word, en spertye is selfs aangekondig.
Een hiervan is die aanstelling van ’n “rompslomp-sloper” om toe te sien dat munisipaliteite hul skuld aan ondernemings binne 30 dae betaal (sou dit Eskom insluit, wonder sy).
Daaruit vloei die hoop dat die aandag dan na staatsamptenare kan verskuif waar nie meer poste nie, maar meer produktiwiteit nodig is.
Ook Theuns Eloff, onafhanklike kommentator, is positief oor die toespraak wat ou sekerhede omvergooi en nuwe moontlikhede na vore bring.
’n Keerpunt is volgens hom die erkenning dat die regering nie werk skep nie, maar private ondernemings. Daarom, het Ramaphosa gesê, is die regering se sleuteltaak om omstandighede te skep wat die privaatsektor in staat stel om te groei, nuwe markte te betree, nuwe produkte te skep en meer mense in diens te neem.
Die provinsiale rede van dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, gaan eersdaags aangehoor word.
Mag sy geykte woorde uit ’n vorige provinsiale rede, “a modern, growing and successful province”, hoop vir hierdie grootse provinsie gee om die jaar en sy oorblywende 11 hekkies met nuwe ywer aan te durf.