“The German cars are here”, “The suits are here”, met “Ons is honger” as afwisseling.

Dié en ander uitroepe van die voorprater van die groepie betogers buite die omheining van die Mittah Seperepere- internasionale konferensiesentrum in Kimberley is gehoor voor die aanvang van vanjaar se provinsiale rede deur die premier van die Noord-Kaap.

Vanjaar se rede, waarvoor die Noord-Kaapse Wetgewer R3 miljoen begroot het, was die finale sitting van die sesde administrasie; in dieselfde jaar waarin 30 jaar van demokrasie herdenk word.

Soos pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede, het dr. Zamani Saul ook na die karakter Tintswalo verwys wat deur dié drie dekades van demokrasie bevoordeel is.

Die hoë werkloosheid­syfer onder jeugdiges toon dat min van Tintswalo se tydsgenote die “lucky few” is; anders as die 30 jong mense na wie die premier verwys het wat die sitting bygewoon het en wat Tintswalo verteenwoordig.

Nie die demokrasie of enige vaardigheidsprogramme deur departemente het die werklose jeugdiges op ’n pad van voorspoed en welvaart gesit nie.

Eers in 2023 het, kom ons noem haar Refilwe, die steenhuis gekry wat kort ná 1994 vir haar ouma belowe is.

Haar ouma is dood sonder dat sy ooit in haar eie steenhuis gebly het. Refilwe het tydens haar skooljare, wat sy op 21-jarige ouderdom voltooi het, vir baie weke nie skool­onder­rig gehad nie. Daar was selde genoeg handboeke, onderwysers het gestaak, kontrakteurs wat die groter skool moes bou, het verdwyn; jaar ná jaar.

Terwyl Tintswalo ’n maandelikse salaris verdien, ry Refilwe taxi na die naaste dorp om haar “grant” te kry. Waar sy bly, is nie programme om vaardighede aan te leer nie.

Ná die afhandeling van die provinsiale rede staan die groepie betogers steeds buite; uitgebraai in die son en hongerig-hoopvol om een van die kospakkies te kry wat aan die teenwoordiges by die provinsiale rede uitgedeel is.

You need to be Logged In to leave a comment.