Om deesdae kind te wees klink ál minder na kinderspeletjies.

Selfs laerskoolkinders spartel glo om kop bo water te hou – en nie net tydens swemlesse nie.

Die rede hiervoor is al hoe meer naskoolse aktiwiteite wat die kind van speeltyd ontneem – hoewel die gemiddelde Suid-Afrikaanse ouer se afdwing daarvan ligjare van “tiger parenting” verwyder is.

“Tiger parenting”, met sy oorsprong in die Ooste, is uiterse streng ouerskap waardeur ouers in die hoogste mate in hul kinders se sukses belê – van kleuterdae af.

Sulke kinders word uitermate gedruk om die heel hoogste akademiese prestasies te behaal (’n “A” is nie goed genoeg nie; slegs “A++”).

Die kinders word gedwing om aan ’n verskeidenheid naskoolse aktiwiteite deel te neem, met geen ruimte om besluite te neem nie, of voor- of afkeure te verwoord nie. Vrees word in baie gevalle gebruik om die kind tot optrede te dwing. Bywoning van verjaardag­partytjies en aktiwiteite bloot vir pret en ontspanning, is ontoelaatbaar.

Westerlinge wat Engels-klasse in Oosterse lande aanbied, vertel ’n groot uitdaging is om dié kinders tydens klas wakker te hou. Selfs sesjariges kan daagliks aktiwiteite van 06:00 tot omstreeks 24:00 hê; terwyl die ouers meestal twee beroepe in dié tydsduur beoefen.

In Suid-Afrika is waarskynlik baie min sulke tierende ouers (dalk eerder die teendeel van totale onbetrokkenheid). Tog kan dit ingewikkeld raak om ’n gewone “speelafspraak” met ’n maatjie te maak. Maandag is dit musiek of ballet; Dinsdag en Donderdag hokkie of netbal of rugby; Woensdag tennis; Vrydag ekstra wiskunde-klasse; naweke is dit bywoning van byeenkomste.

Met die besluit oor hoeveel naskoolse aktiwiteite beoefen behoort te word, is balans sekerlik die kern. Dié balans kan slegs geskep word wanneer ’n kind toegelaat word om nog te speel.

Want so speel-speel, sê geleer­des, leer die kind om te onder­han­del, probleme op te los, te deel, groepswerk te doen, besluite te neem en vaardighede te ontdek.

You need to be Logged In to leave a comment.