Verlede week het gebeure op die onderwysfront duisende leerlinge oor die Noord-Kaap heen se lewe op ’n nuwe pad gestuur.
Woensdag (18/01) het 2023 se gr. 1’s die eerste maal hul blinknuwe skoolskoene en kraaknuwe skoolklere aangetrek.
Die treë in die nuwe skoene was nog effens onseker, maar ongeag benoude gesiggies was die atmosfeer van afwagting oorheersend.
Vir hulle lê 12 skooljare met ’n onbuigsame roetine voor. Tog, daar is sekuriteit in roetine en ruimte waar ’n ouer, voog, onderwyser of die stelsel (normaalweg) byderhand is.
Ook, Vrydag het 13 574 matrikulante van 2022 – wat reeds die 12-jaar-pad met al groterwordende skoolskoene gestap het – die uitslae van hul laaste skooleksamen ontvang.
Uit dié het 3 502 nie goeie nuus gekry nie. Van hulle sal ’n 13de jaar skoolskoene aantrek.
Die meerderheid, wat wel geslaag het, gaan nooit weer skoolskoene dra nie.
Van nou af is dit ’n eie keuse oor watter skoene om te dra en watter pad om daarmee te stap.
Plakkies om op voort te slof; skerppunt-skoene of hoë hakke om professioneel, of begeerlik, te lyk; plat skoene om sonder sukkel oor die weg te kom; of tekkies om vinnig die pad te stap (of te draf).
Dit is ook ’n eie keuse of jy jou ooit in iemand anders se skoene wil indink.
Hieroor skryf ene Daniel H. Pink: “Empathy is about standing in someone else’s shoes, feeling with his or her heart, seeing with his or her eyes. Empathy is hard to outsource and automate, but it makes the world a better place.”
Vir elkeen wat tans skoolskoene dra, of al gedra het, kan hierdie wysheid van Dr. Seuss dalk van waarde wees:
“You have brains in your head. You have feet in your shoes. You can steer yourself in any direction you choose. You’re on your own, and you know what you know. And you are the guy who’ll decide where to go.”


