Hoofartikel: Hulp nodig vir SA se jeug

Met die viering van Jeugdag vroeër die maand, 44 jaar ná 16 Junie 1976, kom ’n sterk tweevoudige betekenis aan dié dag weer na vore. Veral in konteks van die #BlackLivesMatter-veldtog, is dié dag van historiese én hedendaagse belang.


Met die viering van Jeugdag vroeër die maand, 44 jaar ná 16 Junie 1976, kom ’n sterk tweevoudige betekenis aan dié dag weer na vore. Veral in konteks van die #BlackLivesMatter-veldtog, is dié dag van historiese én hedendaagse belang.

Enersyds moet ’n mens terugstap op die voetspore wat gelei het tot die geboorte van die demokratiese Suid-Afrika op 27 April 1994, ná 16 Junie 1976, bepaald een van die belangrikste dae in die geskiedenis van die moderne Suid-Afrika.

Op dié dag het sowat 20 000 skoolkinders in die strate van Soweto teen die gebruik van Afri- kaans as voertaal in swart skole betoog. Die tol was hoog, nie net wat die lewensverlies onder swart jeugdiges betref nie.

Die geweld het die destydse regering onkant betrap en hy het nie ’n benul gehad oor hoe om ’n einde daaraan te bring of wat om te doen aan die eintlike probleem nie – ’n wekroep om apartheid te beëindig. Die vonk was in ’n kruit- vat wat sedert die 1960’s – Sharpe- ville – gesluimer het.

Die geweldige lewensverlies en pyn wat veroorsaak is, moet be- paald gedenk word. Andersyds moet erken word dat die nuwe Suid-Afrika nog nie naastenby voldoen aan die opvoedkundige en ekonomiese strewes van jong Suid-Afrikaners nie.

Inteendeel, die jeug in Suid-Afrika is in ’n krisis met hoë werkloosheid.

Kortweg, 44 jaar ná 16 Junie 1976 sit ons met nog ’n verlore generasie. Gee ons genoeg om vir dié generasie? Maak hul lewe en toekoms genoeg saak? En wat sê dit van ’n vakbond soos Sadou, wat elke belangrike maatreël om onderrig in Suid-Afrika te verbeter eenvoudig dwarsboom?

Indien die regering nie die situasie met sterk, geloofwaardige leiding doelgerig probeer besweer nie, is ’n uitbarsting soortgelyk aan die een in 1976 nie uitgesluit nie.– Volksblad, 17 Junie

You need to be Logged In to leave a comment.