Hierdie kortste maand van die jaar word deur die maak van beloftes gekenmerk.

Net verlede week het die nasie reggesit om die president se beloftes in vanjaar se staatsrede – “State of the Nation Address” of Sona – aan te hoor.

Pres. Cyril Ramaphosa het belowe dat die einde van beurtkrag in sig is. Sedert die staatsrede op Donderdagaand 8 Februarie het beurtkrag met vier vlakke na fase 6 verhoog.

(Hieroor het die minister van elektrisiteit gesê dit is nie ’n verleentheid nie, waarop beloftes gemaak is dat die erger beurtkrag teen Woensdag sou verbeter.)

Die rubriekskrywer van Blouwillemaandag skryf hieroor: “Wat ek verwag het, het toe ook gebeur en dit is dat hy weereens sona om te blik of te bloos ’n spiets afgesteek het wat sona hoop, sona planne, sona krag en meestal sona waarhede was.”

Op Saterdag 10 Februarie het Julius Malema, EFF-leier, sy party se verkiesingsmanifes bekend gestel wat “ekonomiese vryheid in ons leeftyd” belowe.

(In sy toespraak het Malema, volgens politieke joernalis Gert van der Westhuizen, die land se probleme baie raak opgesom met sy vrae oor wat vryheid is: Wat is vryheid sonder water, sonder huise, sonder werk, sonder basiese elektrisiteit . . .).

Intussen wag Noord-Kapenaars vir dr. Zamani Saul se provinsiale rede, wat ook waarskynlik in dié maand gelewer gaan word.

Watter beloftes gaan daar gemaak word? Ook kan ’n mens sommer wonder watter beloftes “gewone Suid-Afrikaners” op Valentynsdag gaan maak; en hoe lank dit gaan hou.

Beloftes se lewensduur is in baie gevalle so lank soos dié van (duur) rooi rose vir Valentynsdag.

Van kindsbeen af is ’n mens geleer: “Beloftes maak skuld, wie dit glo raak gekuld,” en in Engels: “Promises are like piecrust, made to be broken.”

Mag ons vandeesmaand die wysheid ontvang om nie leë beloftes te glo of dit self te maak nie. Want ’n lang jaar lê voor waarin ons mekaar nog in die oë moet kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.