Hoewel die geesdrif vir sport nie ewe dik in almal se bloed vloei nie, is dit tog verblydend dat die Curriebeker-eindstryd die Noord-Kaap (weer) in die kollig geplaas het.
Ongeag daarvan dat dit die Suid-Afrikaanse provinsie is wat die grootste oppervlakte beslaan, word gereeld in nasionale nuusberigte, wanneer statistiek onder meer bekend gemaak word, nie eens na die Noord-Kaap verwys nie.
Met algemene sake word ander provinsies se nuus gereeld aan Noord-Kapenaars afgesmeer – so asof die mense hier nie op hul eie nuus kan skep nie.
Vandat die Griekwas hul plek in die Curriebeker-eindstryd verseker het, het dit meteens gelyk of die hele Suid-Afrika ’n verbintenis met dié provinsie het. Skielik het mense weer van die Noord-Kaap onthou.
As ’n lojale Noord-Kapenaar is dit onverstaanbaar dat daar op die provinsie en sy hoofstad neergekyk word, met ’n effense trek op die gesig. (Toegegee, die riooloorstromings in die meeste dorpe hier veroorsaak ’n trek op die gesig. Tog is swak infrastruktuur nie eie aan die Noord-Kaap nie).
Buitendien het selfs Suid-Afrika se twee grootste en rykste stede – Johannesburg en Kaapstad – nie ’n plek onder die 200 topstede in die wêreld behaal nie.
Volgens die jongste Schroders Global Cities-indeks is Johannesburg 272ste en Kaapstad 316de.
Kimberley kry die 812de plek van 900 stede wat evalueer is.
Die hoofredes waarom Suid-Afrikaanse stede nié onder die beste 200 ter wêreld gereken word nie, is gebrek aan openbare vervoer, lugbesoedeling en waterinfrastruktuur wat uitmekaarval.
’n Mens sou kon droom dat die enigste Noord-Kaapse stad uit sy riooloorstroomde en slaggatgevulde sak en as opstaan en ’n toonbeeld van die premier se visie van ’n “growing, modern and successful province” word.
En ’n mens sou kon droom dat die hoop nie tevergeefs is nie – soos die Griekwas s’n in die Curriebeker-eindstryd.



