Met die vind van nog ’n oorlewende in die ramp in George nadat ’n vyfverdiepinggebou onder konstruksie verlede Maandag ineengestort het, is daar weer hoop.
Dié oorlewende, ’n 32-jarige man, is onder die puin gevind nadat hy 118 uur vasgekeer was, sonder water of kos.
Dit word as ’n wonderwerk beskryf; en dat hy geen ernstige beserings tydens die ineenstorting van die gebou opgedoen het nie.
Dit bring hoop dat nog mense lewend onder die sowat 3 000 ton puin gevind sal word, al is die gemiddelde aantal ure waarna ’n persoon na verwagting lewend gevind kan word, reeds verby.
Ook op Maandag was dit 84 dae sedert die sewejarige Joshlin Smith van Diazville in Saldanha as vermis aangegee is. Die vier verdagtes in haar verdwyning sou toe weer in die hof op voorlopig klagte van ontvoering en mensehandel aangekla word.
Hoewel Joshlin een van vele kinders is wat spoorloos verdwyn het, het haar verdwyning ongekende belangstelling gewek.
Ongeag groot betrokkenheid in haar soektog, is daar nog geen spoor van haar nie. In haar geval wil-wil ’n mens hoop verloor dat sy gevind sal word. Tog, tot die teendeel bewys is, bly die hoop.
In die ramp in George was daar teen Maandagoggend 13 Mei nog 28 mense vermis.
Na bewering was daar 81 mense op die bouperseel toe die gebou ineengestort het. Die dodetal het toe reeds tot 24 gestyg. Colin Deiner, hoof van rampdienste in die Wes-Kaap, het aan Hanlie Retief van Rapport vertel dat hy geleer het ’n mens moet nooit oorweldig word deur ’n ramp nie, ongeag die grootte daarvan. Deiner het al reddingswerk ná aardbewings in Iran, Algerië, Pakistan, Haïti en Turkye gedoen. Selfs in Haïti, waar meer as 30 000 mense dood is, was daar voorvalle van hoop.
Ene Thich Nhat Hanh het geskryf: “Hope is important because it can make the present moment less difficult to bear. If we believe that tomorrow will be better, we can bear a hardship today.”

