“Die Augrabies ontwaak met ’n bulderende wal water en opgehoopte takke en bome tuimel oor die rotsbanke.

“Die aardkors sidder voor die magtige rivier, wat met woedende waters die laaste sweet van droogte van die Kalahari se gesig afvee.

“Witgatbome drink gulsig aan die sproei wat oor hul dor blare daal en die kameeldorings se basse kleur donker van die mis. ’n Kokerboom hang met mening aan die rotsbank om sy deel van die water te kry.”

Só skryf dr. Gerhard Verdoorn, natuurliefhebber en bewaarder, in ’n rubriek verlede jaar in Media24-publikasies.

Hierin beskryf hy hoe die dorre Noord-Kaap ontwaak wanneer reën val en die samevloeiing van die Oranje- en Vaalrivier in die waterval afdruis.

Met ter perse gaan, waar die water teen 4 175 kubieke meter per sekonde (kumek) in die ravyn as die Augrabies-waterval afstort, is die “sweet van droogte” beslis van dié deel van die Kalahari se gesig afgevee – te danke aan die digte sproeireën.

Die huidige vloei is steeds nie soveel soos in 1988 toe ongeveer 7 800 kumek gemeet is, en die 4 779 kumek van 2011 nie.

Kontrasterend het dieselfde bruisende water wat nou as ’n grootste skouspel in die ravyn afstort, in sy vloei hoër op blyplekke en eiendom verswelg en verdwerg.

So dor soos wat die Noord-Kaap kan wees, en groot dele steeds is, bruis dié biljoene liter water as die Oranjerivier en as die grenslyn tussen Suid-Afrika en Namibië, na Alexanderbaai om in die see te vloei.

Sommige reken om sproeireën in die Noord-Kaap te beleef, is ’n moet – al is die hoofuitkyk­platform nou ontoeganklik.

Ander reken die Augrabies is mees indrukwekkend wanneer die vloei ongeveer 2 000 kumek is.

Nog menings is dat ’n mens die diep ravyn in droogtetye ook moet sien: om in tye soos nou te besef hoe groots die skouspel is.

Maak ’n plan: Enige tyd is die beste tyd om Augrabies te besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article