Lente, in haar uitrusting van bloeisels en vars groen blaarbotsels, staan met ’n mandjie vol kleurryke blomme voor die deur.
Hoewel die Augustuswind nog kort-kort deur Lente se haredos gaan waai, en van die bloeisels aan haar uitrusting met sy felheid gaan verskroei, is dit vandag amptelik Lentedag in die suidelike halfrond.
In die wetenskap is bewys dat mense in dié seisoen weer nuwe energie kry. Dit het te doen met daglengtes wat langer word; meer blootstelling aan sonlig en meer goedvoelhormone wat vrygestel word.
Lente simboliseer die seisoen van ’n nuwe begin, van nuwe hoop, van buitetoe leef.
Feesgangers wat die afgelope naweek die Yonder Hartsfees in Kimberley bygewoon het, het oënskynlik reeds lente se koms begin vier; nie net deur lentedrag nie, maar ook deur ’n glimlag, ’n tegemoetkomendheid, wat uit die meeste gestraal het.
Miskien was die waarneem van glimlagte bloot omdat dit die eerste keer in jare was om ’n byeenkoms van so ’n omvang te beleef, boonop sonder ’n masker.
Op die maskerfront en verwante sake voorspel kenners juis dat ’n sesde Covid-19-vlaag die land in lentemaand kan tref.
Hoewel kenners se voorspelling oor hoe erg die vlaag kan wees, verskil, is hulle dit eens dat dit wel gaan gebeur. Naas inentings bly die beste wapen teen infeksie steeds ventilasie en die handhaaf van persoonlike afstand, sê hulle.
Dit, en omdat ’n mens se binneste nodig het om weer na buite te leef, verskaf genoeg rede om jou gesig na die son te draai.
Soos wat Martelize Brink, bekende radio- en TV-persoonlikheid die naweek tydens die Yonder Hartsfees opgemerk het: “Wat gaan jy doen om die lewe weer te ervaar?
“Kry jouself uit jou gemaksone. Dit is waar jy groei.”

