Dit is nie net Eskom se manewales wat ’n mens al hoe meer in die duister laat nie.

Benader jy Kimberley – die grootse Noord-Kaap se hoofstad en enigste stad – uit enige windrigting, begroet afgesaagde lamppale jou uit hul geknakte posisie.

In die nag is die toegangsroetes en talle strate in donkerte gehul omdat die koperkabeldiewe weer hul sin, en kabels, gekry het.

’n Mens kan jou verwonder dat die misdaad so oop en bloot, en stelselmatig paal ná paal in ’n ry af, plaasvind.

Talle woonbuurte in die stad, en in al hoe meer dorpe, is gereeld in die donker weens elektriese kragbokse of substasies wat van koper besteel word.

Keer op keer moet dit deur ’n reeds wankelrige munisipaliteit of die nasionale kragvoorsiener teen hoë koste vervang word.

Die misdaad is dalk vir sommige werkloses ’n bron van inkomste, maar iewers sit die rondvet-sindikaathoofde sonder ’n gewete hul wêreld van melk en heuning en geniet – ten koste van alle ander landsburgers.

Kabeldiefstal raak elke individuele huishouding en elke onderneming.

Hierdie vorm van sabotasie dra slegs ter wille van emosie­skepping ’n mantel van werkskepping.

Word die “werklose” kabeldief wel in hegtenis geneem, sal ’n ander een onverwyld sy plek inneem indien hy weens tronkstraf uit die samelewing verwyder word. Die sindikaathoofde sal nie ’n rand se skade of ’n oomblik se ongerief verduur nie.

Koperkabeldiefstal vind oor die hele provinsie en die land heen plaas, en is glo ’n uiters winsgewende bedryf bestuur deur professionele sindikate wat selfs met AK-47-aanvalsgewere by substasies opdaag om hul pond botter – of kilogramme koperkabels – te eis.

Selfs nie sekuriteitswagte of gesofistikeerde heinings keer dié vorm van sabotasie by substasies nie.

Teen dié tempo kan Kersliggies teen die einde van die jaar slegs kersliggies wees.

Boonop klink die sogenaamde grappie oor wat Afrika voor kerslig gebruik het, met die antwoord “elektrisiteit”, al hoe minder na ’n grap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article