Suid-Afrikaners is die 83ste mees vreugdevol en tevrede volgens ’n verslag wat uit opnames in 143 lande saamgestel is.
Vir die samestelling van dié internasionale “gelukkigheidsindeks” vir die jaarlikse World Happiness Report word landsburgers gevra om hul lewe op ’n skaal van nul tot tien te evalueer.
Algemene voorspoed, persoonlike vryheid, lewensverwagting, maatskaplike bande en korrupsie beïnvloed die punte.
Inwoners van Finland is steeds die mees vreugdevol, met ’n punt van 7,7; gevolg deur Denemarke, Ysland, Swede en Israel. Suid-Afrika het ’n punt van 5,4 gekry.
Die tien onderste plekke is ingeneem deur Zambië (3,5), Eswatini (3,5), Malawi (3,4), Botswana (3,3), Zimbabwe (3,3), Kongo (3,2), Sierra Leone (3,2), Lesotho (3,1) en Lebanon (2,7), met Afganistan heel laaste (1,7).
Kanadese voel tevrede en het hul land in die 15de posisie 6,9 gegee. Die Verenigde Koninkryk is 20ste met 6,749, en die VSA 23ste met 6,725. Die VSA se daling uit die 20 topplekke is glo weens mense jonger as 30 jaar wat al hoe meer ontevrede raak.
Dr. Gail Saltz, ’n professor in psigiatrie in dié land, sê vreugdevolheid is relatief, maar in die lande waar die meeste hiervan beleef word, is gewoontes wat ooreenstem. Dié mense glo aan kuier, en vermy alleenheid en isolasie. Omdat hulle meer kuier, het hulle minder skermtyd; te veel skermtyd kan tot depressie bydra.
Vrygewigheid en vrywilligerwerk dra ook tot vreugde en tevredenheid by.
Die gelukkige Finne het boonop ’n uitstekende gesondheidstelsel wat tot hul geestelike en fisieke welstand bydra.
Vreugdevolle mense doen alles in hul vermoë om gedurige spanning te verminder, en leer tegnieke aan om ’n balans tussen werk en ontspanning te handhaaf.
Ook, mense in die lande boaan die lys is meer aktief en beskou oefening as deel van selfsorg, soos eet en slaap.
’n Individu gaan nie op sy eie ’n hele regeringsbestel regruk nie, maar stap vir stap kan ’n mens tog vir jou eie vreugde veg.

