Watter soort lig daar in die donker tonnel van elektrisiteitsvoorsiening in die land skyn, is moeilik om te sien.
Dié lig is nog so ver – byna so ver soos ’n gedagte wat nog net gedink en nog glad nie uitgevoer is nie. Boonop is ’n mens nie seker of die lig dalk van ’n kers- en lampbron afkomstig is nie.
In die donker is enige lig immers helder.
Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand (25/07) die regering se plan om die kragkrisis in die land op te los, aangekondig. Baie woorde is gepraat; baie begrippe gedeel en planne voorgelê.
Is dit té min, té laat?
Want ná sowat ’n dekade van beurtkrag – en donkerwerk wat konkelwerk aanmoedig – is ’n mens effens skepties oor hoe vinnig en geslaagd hierdie planne uitgevoer gaan word.
Saam met die verouderde infrastruktuur, ’n tekort aan vaardige personeel en ingenieurs, sabotasie en bedrog, is dit juis die gekonkel in die donker – aangehelp deur beurtkrag – wat die kragkrisis aanhelp:
Kabeldiefstal wat die ekonomie na raming tussen R5 biljoen en R7 biljoen per jaar kos, vandalisme van infrastruktuur, plundering by substasies, die koppeling van onwettige kabelverbindings . . .
Voeg daarby die vars onthou van miljarde se tenderkorrupsie en suiwer diefstal wat in die naam van die onlangse “krisis” van die Covid-19-pandemie gepleeg is.
Ramaphosa meen die kragkrisis is ’n geleentheid vir toekomstige groei en veerkragtigheid, en sê almal moet nou ’n bydrae lewer om die energiekrisis op te los. Dit kan glo gedoen word deur onder meer sonkragopwekkingseenhede te installeer en om onwettige verbindings te help bestry.
Al die planne is nuut en die son gaan nog ’n paar keer sak en opkom voor ’n verskil sigbaar is.
Ten minste weet ons, gedagtig aan Transnet se reputasie, dat die lig in die tonnel nie die van ’n trein kan wees nie.

