’n Mens sien uit na ontblote lamppale wanneer die verkiesingsplakkate hopelik ná stemdag verwyder gaan word.

Met stemdag net meer as ’n maand in die toekoms – op Woensdag 29 Mei – is ’n mens al moeg om in een of ander politikus se gesig vas te kyk wanneer jy in die straat afkruie.

Of wanneer jy by ’n besige kruising aankomende verkeer probeer evalueer, en ’n politikus se gesig presies op daardie hoogte jou sig versper.

Dit is ook verstommend hoe die plakkate in trappe van vergelyking en waarskynlik trappe van wedywering, teen die lamppale geheg word.

Geen plek op so ’n paal is té laag of té hoog vir nog ’n plakkaat nie.

’n Voorverkiesingstydperk is bekend as ’n wonderbaarlike tyd.

Dit is ’n tyd wanneer beloftes ruimskoots gemaak word; en wanneer wonderwerke verrig word: Wanneer skole, sentrums, biblioteke, hophuise, meteens soos stokkielekkers uitgedeel word en soos paddastoele ná die reën verrys.

By sulke geleenthede, wat onder die vaandel van die staat en sy betrokkenheid behoort te gebeur, is dit nie ongewoon om ’n goeie skeutjie politiekery in te kry nie.

Behalwe politiekery wat voor die verkiesing te wagte kan wees, voorspel Gert van der Westhuizen, politieke redakteur van Netwerk24, dat nog meer fopnuus as ooit boonop kiesers se voorland is.

Voorbeelde word genoem van videos, stemopnames, en allerlei boodskappe en beledigings in die sosiale media wat reeds opduik, en wat as vals nuus bewys is.

Voeg daarby die risiko van kuberaanvalle op die verkiesingsproses wat ook deur kundiges voorspel word, disinformasie, diepstem- en diepvideovervalsing, en die kwaadwillige gebruik van kunsmatige intelligensie, en dit alles wil na behoorlike chaos lyk.

Met al die verwarring wat kan ontstaan bly een goue reël: As iets te goed of te vergesog klink om waar te wees, is dit waarskynlik nie waar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.