Tienduisende Suid-Afrikaners in die buiteland het die afgelope naweek hul kruisies in die nasionale verkiesing getrek.

Die Verkiesingskommissie (OVK) sê sowat 78 000 Suid-Afrikaners het hulle vooraf geregistreer om by 111 stempunte in die buiteland te stem – onder meer in Australië, Kanada, Amerika, die Verenigde Koninkryk, Nederland en lande in die Midde- en die Verre-Ooste.

In Londen was die opkoms so groot dat kiesers glo tot vier uur lank in die tou gestaan het.

’n Suid-Afrikaner wat in Skotland woon en werk, het vier uur per trein tot in Londen gereis om te stem. Hy het glo R3 540 vir die treinkaartjies opgedok.

Nog ’n Suid-Afrikaner, wat in Suid-Korea woon en werk, het altesaam drie uur gependel na en van die stempunt in Seoel; waar glo geen gewag nodig was nie.

Suid-Afrikaners in die buiteland stem om verskeie redes, berig Marelize Barnard op Netwerk24. Dié redes sluit in: Ek glo elke stem tel, myne ook; Om te stem is my burgerlike plig, ongeag waar in die wêreld ek my bevind; Baie mense het geveg, gesterf en opgeoffer sodat ek hierdie reg kan hê, en ek gaan dit nie vermors nie; en Ek het familie en geliefdes daar, en ek gee om oor hoe die land bestuur word.

’n Ander is van mening dat Suid-Afrika se invloed verder as sy landsgrense strek, daarom is hierdie verkiesing op internasionale vlak belangrik.

In Suid-Afrika kry kiesers geleentheid om oor minder as ’n week – op Woensdag 29 Mei – hul kruisies te trek.

In Suid-Afrika is daar in elke wyk ’n stempunt.

Vanjaar se nasionale verkiesing word as die belangrikste sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 beskou.

Moet Woensdag se stemdag nie net as ’n vakansiedag beskou nie. Om ’n Suid-Afrikaner wat in Viëtnam woon, aan te haal: “As jy nie stem nie, kan jy nie kla nie, want jy het self niks gedoen vir verandering nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.