Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Kort ná die onlangse en beplande waterafsluiting wat vir vyf dae in die Noord-Kaapse hoofstad geduur het, het wydverspreide kragonderbrekings in die stad plaasgevind. Omdat dit sekerlik ‘n invloed op mekaar het, het verstopte rioolstelsels en weer eens (kortstondige) waterafsluitings hiermee gepaard gegaan.

Terloops, die Sol Plaatje-munisipaliteit kan geprys word vir deurlopende en goeie kommunikasie tydens die onlangse vyfdag-waterafsluiting.

Elke dag is ‘n opsomming van die vordering gegee, gestaaf met foto’s en video-onderhoude. Selfs onvoorsiene tegniese uitdagings wat oponthoude in die werksprogram veroorsaak het, is eerlik deurgegee, met ‘n verduideliking.

Deursigtigheid is sekerlik ‘n goeie woord om dié kommunikasie wat plaasgevind het, te beskryf.

Ook tydens verlede week se wydverspreide kragonderbrekings het die kommunikasie-afdeling voortdurend inligting uitgestuur, oor waar die foute is, en wat daaraan gedoen word.

In van die verklarings oor die kragonderbrekings skryf die munisipaliteit: “Cause of outage: Emanates from persistent vandalism and theft at H.A. Morris Substation,” “Cause of outage: Emanated from excessive damage to a transformer, likened to sabotage” en “An explosion caused by thieves cutting an aluminium cable. They had thought it was a copper cable”.

Op verskeie Facebook-blaaie van gemeenskapsgroepe beaam inwoners diefstal van elektriese toerusting uit mini-substasies in hul strate.

Maar soos tydens die beplande waterafsluiting het talle nie nagelaat om op sosialemediaplatforms teen die munisipaliteit uit te vaar nie. ‘n Skepper van digitale inhoud som dit waarskynlik op: “I do understand everyone frustration but Sol Plaatje can hardly be blamed if individuals (local or foreigners) within the community vandalise (act of terrorism in my opinion) a substation to enrich themself at the expense of the community.”

Volgens talle aanlynbronne kan inwoners van ‘n dorp of stad tot swak dienslewering van ‘n munisipaliteit bydra. Dit sluit die nie-betaling van diensterekeninge in, asook vandalisme en apatie rondom die hele proses van dienslewering.

Dat die voete van klei van dié munisipaliteit deur dekades telkens al verkrummel het, is nie te betwyfel nie. Daar is nog jare van werk en uithou en aanhou oor voordat die gewilde sinsnede “Putting the sparkle back in the Diamond City” enigsins van toepassing kan wees.

Maar intussen kan die deursigtige kommunikasie vanaf die munisipaliteit hoop bied waar almal met voete van klei vaste grond kan vind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article