Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Ter illustrasie Credit: Helena Barnard

Was die Suid-Afrikaanse demokrasie ‘n persoon, moes hy teen sy 31ste verjaardag reeds ‘n volwassenheid met ‘n rits lewensvaardighede ontwikkel het.

Teen die ouderdom van 31 jaar behoort iemand finansieel geletterd te wees, kommunikasievaardighede hê, tyd kan bestuur, asook die vermoë om basiese huisinstandhouding en -bestuur te doen.

Om verantwoordelik vir eie gesondheid en welstand te wees, is deel van die aanbevole vaardighede.

Bykomend sal dit tot eie voordeel op persoonlike en professionele vlak strek om voortdurend emosionele intelligensie te verbeter, aanpasbaar en digitaal vaardig te wees.

Dit aldus ‘n opsomming van Google se kunsmatige intelligensie-funksie.

Op Sondag 27 April het demokrasie in Suid-Afrika sy 31ste verjaardag gevier. Dié vieringe het plaasgevind midde ‘n magdom gebeure wat die maag op ‘n knop laat trek.

In dié tyd moet inwoners van onder meer die Bloemhof- en Christiana-omgewing hulle die tweede keer vir ‘n watermassa staal wat deur die Vaalrivier vloed. Menings dat waterbeheer in opgaardamme nie na wense bestuur word nie, klink op.

Intussen woed brande sedert Vrydag in die Tafelberg- Nasionale Park, en duisende hektaar unieke en inheemse plantegroei word verwoes.

Kleinwild word doodgebrand of vermink. Menselewens word in gevaar gestel. Die brande het vermoedelik weens opsetlike brandstigting ontstaan, volgens owerhede. Om nie misdaad in toom te hou nie, is soos om nie na eie gesondheid en welstand om te sien nie.

Ook, nadat talle finansiële instellings en diensverskaffers reeds amptelik nuwe premieverhogings aangekondig het, word dit nou teruggetrek. Die BTW-verhoging van ‘n halwe persentasiepunt wat op Donderdag 1 Mei in werking sou tree, is geskrap. ‘n Mens sou beter finansiële geletterdheid verwag het as om so ‘n verhoging lukraak af te kondig.

Gelukkig tog het Demokrasie talle maters wat hoop gee. Dié maters se menslikheid skyn soos sterk sonstrale deur grys, mistroostige wolke.

Soos verlede week in Kimberley, toe ‘n bejaarde man met sy motor in ‘n stormwater-afvoergat beland het. Die motor kon nie vorentoe of agtertoe nie. Binne minute het verskeie mense, van die drie hoofbevolkingsgroepe in die land, by dié toneel in ‘n besige straat gestop.

Saam is planne gemaak, en saam is die motor uit die gat gekry. Daarna het elkeen sy koers gekry, met ‘n glimlag op die gesig.

You need to be Logged In to leave a comment.