“Too often consumers are left at a disadvantage with the companies and governments they encounter, leaving them exposed to unsafe, unfair or unethical practice.
“We want to change this and ensure that the voice of consumers is as powerful as the governments and corporations they interact with.
“We are challenging unfair, unsafe and unethical practice to ensure all consumers are treated safely, fairly and honestly.”
Hierdie filantropiese woorde verskyn op die webwerf gov.za waar die Suid-Afrikaanse regering sy sê oor Wêreldverbruikersdag sê. Dié dag het Woensdag (15/03) plaasgevind.
In die lig van die staking van die vakbond Nehawu en die dreigende haelwolk van die EFF se nasionale betoging Maandag (20/03), is die “viering” en die filosofie agter Wêreldverbruikersdag ietwat sardonies.
Weens die Nehawu-staking is staatspasiënte by sommige hospitale en klinieke oor die land heen onveilig, onregverdig en oneties hanteer.
Daar is selfs berigte van pasiënte wat dood is omdat hulle nie gesondheidsorg tydens die staking ontvang het nie. In landelike gebiede moet mense wat mediese hulp benodig en wat ver gereis het, voor betogende massas omdraai.
By dit alles bestaan kommer oor dreigemente van geweld, plundery, intimidasie en ontwrigting wat moontlik Maandag kan plaasvind.
Ongeag die dryfvere agter die proteste, en die feit dat elkeen ’n saak het om te stel, regverdig dit nie die ontwrigting, vandalisme en indoen van ander wat daarmee saamgaan nie.
Nog minder regverdig dit die toestande waaraan burgerlikes blootgestel word, en dit skep allermins ’n milieu waarin burgerlikes in ’n sogenaamde demokratiese land kan gedy.
Voeg by hierdie kokende pot die gedagte dat Menseregtedag Dinsdag (21/03) “gevier” word, raak die borrelende brousel te aardig om te sluk.

