Sonder om so slim soos die houtjie van die galg te wees, wil dit voorkom of ’n mens maklik die pot kan mis sit met die tweepotstelsel vir aftreefondse wat op 1 September in werking getree het.

Dit is nie te betwyfel dat dié tweepotstelsel goeie nuus vir mense met ’n geldnood is nie, en die voorspelling is boonop dat die stelsel ’n positiewe invloed op die ekonomie sal hê.

Met dié stelsel kan mense geld uit hul pensioenfonds onttrek sonder om te bedank of af te tree. Ook mag diegene wat uit ’n werk bedank, nie meer al hul pensioengeld onttrek nie.

Dit kan positief wees omdat die meeste Suid-Afrikaners wat van werk verander glo al hul aftreegeld onttrek en dan van voor af moet begin spaar by ’n nuwe werk, skryf Hanlie Stadler en Nellie Brand-Jonker, sakejoernaliste van Netwerk24.

Anders as wat verwag is, wil dit tans voorkom of dit grootliks mense in die middelklas is wat aansoek om onttrekkings doen, en nie diegene uit die laerinkomstekategorie wat waarskynlik ’n groter geldnood het nie, berig Metropolitan.

Alexforbes, die grootste administrateur van aftreefondse in die land, het in die eerste week van die tweepotstelsel aansoeke vir R1,5 miljard se onttrekkings ontvang.

Die belastinggaarder lek glo reeds lippe af, want na raming gaan R270 miljoen se belasting op bogenoemde bedrag betaal word. Boonop gaan diegene wat geld uit hul spaarpot onttrek, opdok vir ekstra koste wat die fondsadministrateurs hef.

’n Mens mag slegs een keer per belastingjaar geld uit die spaarpot onttrek.

As jy geld hieruit onttrek, gaan jy minder geld by aftrede hê; dit is ’n feit.

Kenners is dit eens dat dit die beste is om dié pot stewig toe te hou tot by jou aftrede.

Hanteer dié spaarpot daarom soos ’n kookwarm pot: een waarmee jy jou hande kan verbrand, en een waaruit jou eendag-geld stadig kan wegkook indien jy nie koelkop bly nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article