Die afgelope Vrydag was ’n blou (Maan)dag toe Microsoft se Windows-gebruikers oor die wêreld heen vir ’n groot deel van die dag ’n blou (onaktiewe) rekenaarskerm moes trotseer.

Dit weens ’n fout met die globale outomatiese aflaai van die nuutste weergawe van sagteware vir kubersekerheid. ’n Groot aantal Windows-rekenaarstelsels oor die wêreld heen het ineengestort, en dienste by hospitale, lughawens, banke en meer is geraak.

Op eie terrein het ’n mens hande in die hare oor die blou skerm gesit terwyl elke sekonde een nader aan die volgende spertyd is.

Wanneer ’n rekenaar in ’n ware neukenaar verander, besef ’n mens opnuut sy afhanklikheid van dié skerm. ’n Mens voel geflous, en besef daar is nie ’n vinnig uitvoerbare plan B wanneer tegnologie nie werk nie.

Jy kry nie jou denke gedraai oor hoe om nié jou werk sonder ’n rekenaar gedoen te kry nie.

Jy kry selfs heimweë na die ou klaterende tikmasjiene wat hoogstens af en toe ’n nuwe tiklint nodig gehad het; jy onthou die gomreuk in die koerant se uitlegafdeling waar stroke teks op blaaie geplak is.

“Dit is ’n baie ongemaklike illustrasie van die broosheid van die wêreld se kerninternet-infrastruktuur.” Dít ’n voormalige hoof van Brittanje se nasionale kuberveiligheidsentrum, ene Ciaran Martin, se mening oor die ineenstorting. ’n Ander sê: “Ons het nog nooit so iets gesien nie.”

Dit is wel so dat ’n mens Vrydag in werkstyd deur die tuin kon stap, en die sonlig en die plante op ’n tyd beleef wanneer jy gewoonlik afgesonderd en ore in die nek voor die skerm sit.

Op Sondag 28 Julie, wanneer die Wêrelddag vir Grootouers en Bejaardes ’n vierde keer herdenk word, skakel die skerm af. Besoek ’n bejaarde, want soos Pous Francis in 2021 met die instelling van dié dag gesê het: “Die stem van bejaardes is kosbaar. Dit is die moeite werd om na die woorde en wysheid van ouer mense te luister.”

Só leer jy dalk meer as by jou rekenaarskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.