So in die eerste week van herfs word die moontlikheid dat die dra van maskers in die buitelug afgeskaf kan word, al hoe meer gehoor.
Die aanmelding van die aantal nuwe gevalle van Covid-19-infeksies neem sonder twyfel af.
Maandag (07/03) is slegs 801 nuwe gevalle in die land aangemeld, waarvan tien in die Noord-Kaap, 90 in die Noordwes en 255 in Gauteng. Slegs 62 sterftes weens die virusinfeksie is Maandag, oor 24 uur, aangemeld.
Prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog wat op die wetenskapsraad van die Wêreldgesondheidsorganisasie is, sê die land is “tussen virusvlae”, wat die oordrag van die virus verlaag.
Hy sê die vyfde vlaag vir Suid-Afrika word vir die einde April voorspel, met nuwe variante wat hul opwagting kan maak.
Christine Pagel berig op Netwerk24 dat al hoe meer mense oor die wêreld heen smeek om terug te keer na “die wêreld van weleer”, en regerings gee toenemend gehoor hieraan.
Herhaalde infeksies deur die virus en sy variante word egter steeds in komende jare verwag.
“Die meeste mense sal die mas opkom, maar sommige sal sterf – en nog meer sal blywende gesondheidsprobleme hê,” skryf Pagel.
Hoewel mense graag Covid-19 met griep wil vergelyk, is dit nie dieselfde nie.
Die persentasie mense wat sterf wanneer hulle die siekte opdoen, is sowat tien keer so hoog soos met griep. Covid-19 is aansteekliker en het erger gevolge vir die hart, longe en geestesgesondheid as griep – en het boonop ’n hoë koers van langtermynsimptome.
Sy skryf ook: “Die wêreld wat ons voor 2020 geken het, bestaan nie meer nie. Ons mag wens, maar dis ’n herskenskim.”
Lewensafrigters beveel aan dat ’n mens planne moet hê vir waar jy oor vyf jaar of tien jaar in jou lewe wil wees.
Maar ’n onsigbare virus kan jou toekoms eensklaps verander. Of ondeurdagte optrede; ’n ongeluk; ’n oorlog in ’n ander, verre land.
Dit is dan wanneer die kopkrap-uitdrukking verstaanbaar word: “Die toekoms is nie meer wat dit was nie.”