’n Man, 67 jaar oud, is verlede week in Kimberley vir onwettige mynbedrywighede in hegtenis geneem.

Iemand van hierdie ouderdom grawe waarskynlik nie gereeld of selfs daagliks in harde grond en sif daardeur omdat dit sy idee van aftrede is nie.

’n Mens kan aanneem dit word gedoen omdat hy nie ’n keuse het nie; dit is dalk die enigste manier om vir homself en diegene vir wie hy sorg, ’n inkomste te probeer inbring omdat hy jare laas ’n werk gehad het; ’n werk wat tot ’n pensioen of ’n neseier kon bydra.

’n Mens kan aanneem dat sy huishouding een uit vier is – volgens ’n onlangse peiling – wat nie genoeg het om te eet nie.

Die rye mans wat weeksdae langs besige kruisings in die Noord-Kaapse hoofstad sit en wag vir ’n “los werkie” – hoeveel van hulle keer teen laatmiddag huis toe sonder dat iemand hulle vir ’n dagwerk opgelaai het?

Hoe kyk ’n mens die vroue, wat deur woonbuurtes stap en werk vra, in die oë as jy nee sê?

Hoe troos ’n mens ’n matrikulant van 2023, wat met ’n matrieksertifikaat met goeie punte ná weke nie ’n werkie kry nie? Of die een van 2020, of 2019, wat nog nooit ’n werk kon kry nie? Of die een met die graadsertifikaat in die hand?

Werkskepping is die grootste drukkende landskwessie, en is die kwessie waaroor al wat ’n politieke party is groot beloftes in die aanloop van 2024 se nasionale verkiesing gemaak het.

Dít volgens kenners wat die verkiesingsmanifeste van die politieke partye ontleed het.

Die huidige gebrek aan werkskepping en die hoë werkloosheidsyfer is glo die element wat vandeesweek se verkiesing onvoorspelbaar maak.

Wanneer dié uitgawe by die rolpers is, is kiesers reeds besig om hul kruisies te trek, met die uitslag van die stemtellery wat afgewag word.

Mag alle politieke partye wat beloftes oor werkskepping gemaak het, dit onthou wanneer die uitslag bekend is. Want beloftes maak immers skuld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article