Die byna terloopse aanbreek van Augustus, so in die verbyvlietende aard van maande, het ons reeds by die agtste van 12 maande van 2024 uitgebring.

Vir diegene met kinders in die op skool is die kenmerkende siklus van elke jaar dalk meer sigbaar, met skoolvakansies en langnaweke wat as bakens dien.

Vir ander, wat stewig en onverbonde aan skoolvakansies in die tuig ingespan is, is die vlugtigheid van seisoene minder opvallend.

Maar selfs dan laat Augustus, die laaste maand van die winter, ’n mens smag om weer na buite te leef; weg van die ingehoktheid van die seisoen waartydens ’n mens ontblote takke, gedagtes, en wind moet trotseer.

Dwarswind, wind van voor, rukwinde . . . so is dié seisoen.

Dat die YouTuber Richard Hunt besluit het om juis in dié seisoen op sy fiets deur die Noord-Kaap te ry, laat ’n mens wonder oor die tydsberekening.

Die wind, wat hy as die grootste uitdaging vir ’n fietsryer beskryf, het hom plek-plek gekniehalter.

(So ook die onophoudelike stroom vragmotors in die Postmasburg- en Hotazel-omgewing met geen behoorlike padskouer waarop hy veilig kon ry nie. In só ’n mate dat hy eerder kilometers aaneen sy fiets gestoot het.)

Tog was dit nie net die wind (en die vragmotors) wat sy asem weggeslaan het nie. Die “unusual kindness” van die Noord-Kapenaars is vir hom as ’n KwaZulu-Nataller ’n lafenis.

Hunt is ook met reg van mening dat ’n mens nie weet wat op jou pad vorentoe wag nie; of jy vir die dag ’n gladde pad, of een met sinkplate of dik sand gaan moet baasraak nie.

“I don’t know what lies ahead; but I’ll press on for another day of adventure. We are always heading forward to the smooth road,” sê hy.

En dit is wat ons laat aanhou en laat bly hoop in hierdie maand van ruk-en-pluk-winde en onbekende paaie: Dat dit vorentoe beter sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article