Hoofartikel: Amnestie vir wapens ’n klug

Die een amnestietydperk op die ander gaan nié moord en ander misdaad met vuurwapens stuit nie, én dit is ook nie die oplossing vir die warboel met die lisensiëring van wapens in die land nie.


Die een amnestietydperk op die ander gaan nié moord en ander misdaad met vuurwapens stuit nie, én dit is ook nie die oplossing vir die warboel met die lisensiëring van wapens in die land nie.

Ná drie amnestietydperke vir die indiening van onwettige, ongelisensieerde en ongewenste wapens is dit tyd vir die regering om te erken sy plan om met wapenamnestie misdaad te beveg is ’n volslae klug.

Met skeefgetrekte planne en beleid, politiekery en ’n steierende lisensiëringstelsel trek wetsgehoorsame jagters, sportskuts, wapenversamelaars en landsburgers wat hulself wil verdedig aan die kortste ent – terwyl geweldsmisdadigers hulle daaraan afvee en lekker lag.

Bheki Cele, polisieminister, het verlede week van die parlement ’n vierde amnestietydperk gevra, nadat die pas afgelope amnestietermyn deels deur die Covid-19-inperking in die wiele gery is.

’n Vierde amnestietyd sal wel aan wetsgehoorsame burgers nog ’n kans bied om met ’n gesukkel, frustrasie en sonder gewaarborgde welslae weer ongelisensieerde wapens in die raamwerk van die lisiensiëringstelsel wettig te probeer kry.

Geen misdadiger gaan egter ’n onwettige wapen indien, wetend dat ballistiese toetse daarop tot vervolging sal lei nie.

Die syfers van die eerste twee amnestie-tydperke wys dit duidelik.

Geen van die 120 000 vuur­wapens wat toe ingedien is, is met enige misdaad verbind nie.

Dit is tyd dat die regering besef deeglike polisiëring, speurwerk en vervolging is die enigste medisyne teen gewapende misdadigers.

Amnestie kan slegs dien as ’n middel om die harwar en skade van die regering se ondoeltreffende stelsel vir wapenlisensiëring sover moontlik te beperk en reg te stel.

Die fokus moet wees op die vaartbelyning van die wapenlisensiëringsproses en die kapasiteitsprobleme wat die sentrale wapenregister al jare teister.

Misdadigers met ontwettige wapens moet met deeglike polisiëring en vervolging vasgevat word. Daarmee tesame moet deur ’n deeglike lisensiëringstelsel toesig en beheer oor wettige wapens uitgeoefen word.

Dit is al hoe wapenbeheer sinvol kan werk. Volksblad, 9 Junie

You need to be Logged In to leave a comment.