Die meedoënlose aanstap van tyd het die kalender reeds tot by September se laaste week aangehelp, én tot by die einde van 2024 se eerste lentemaand.
In teenstelling met die wete dat dit amptelik lente is, is die afgelope naweek se hoofnuus op nasionale media die kouefront en swaar sneeuneerslae.
’n Behoorlike “sneeu-skok” het duisende getref toe meer as 1 000 voertuie op die N3 in die Van Reenenspas in KwaZulu-Natal weens die swaar sneeu vasgekeer is. Met die skole wat Vrydag 20 September gesluit het, en Dinsdag ’n openbare vakansiedag, het talle Suid-Afrikaners reëlings vir ’n kort vakansie of langnaweek getref.
Maar die weerdiens het meer as ’n week gelede voornemende reisigers gewaarsku dat uiterse weersomstandighede oor dele van die land sou inbeweeg.
Tog het talle besluit om dit te ignoreer: Reëlings is immers getref en deposito’s betaal.
Volgens Rapport se verslagspan word die vinger ook na die N3-tolkonsessie gewys wat motoriste Vrydagaand deur die tolhekke op dié roete gelaat het, terwyl geloofwaardige inligting oor die weerstoestande beskikbaar was.
’n Onlangse studie in Afrika deur KnowBe4.com toon juis aan dat 84% van respondente aangedui het dat hulle op sosialemediaplatforms, soos Facebook en TikTok, staatmaak vir inligting. Dit terwyl die verspreiding van waninligting op dié platforms sedert 2022 verdriedubbel het.
Dié platforms, tensy aan ’n amptelike nuusbron gekoppel, is nie betroubaar nie en met die toenemende gebruik van kunsmatige intelligensie (KI), veral met foto’s, raak dit moeiliker om die koring van die kaf te skei.
Die studie beveel dringend aan dat regerings en instellings werk moet maak om mense in te lig oor hoe om tussen feitelike en vals nuus te onderskei, hoe om dit krities te evalueer én aan te wend.
Soos wat die digitale landskap ontwikkel, moet die strategie ontwikkel om die integriteit van inligting te evalueer, aldus die studie.

