Hond opgehang, by kerk ingebreek

Die polisie van Hartswater ondersoek saam met die Dierebeskermingsvereniging (DBV) blykbaar ’n voorval waartydens daar Maandagaand (08/07) glo by ’n kerk in Hartswater ingebreek is en ’n hond aan ’n […]


Die polisie van Hartswater ondersoek saam met die Dierebeskermingsvereniging (DBV) blykbaar ’n voorval waartydens daar Maandagaand (08/07) glo by ’n kerk in Hartswater ingebreek is en ’n hond aan ’n boom in ’n nabygeleë veld opgehang is.

’n Tweede hond is ook dood by die gesteelde goedere in die veld aangetref in ’n wit sak.

Volgens Johan Stoltz, bevelvoerder van die Eenheid vir Gemeenskapsveiligheid (GVE) in Hartswater en omliggende gebiede, het die voorval vermoedelik Maandagaand (08/07) plaasgevind.

Dit het glo by die Volle Evangelie Kerk in Korhaansingel plaasgevind. 

“Ek verstaan hulle het ’n klankstelsel en ander goed by ’n kerk gesteel.

“Die inbrekers het egter nie ver gekom nie en die goed in ’n veldjie naby die kerk versteek.

“Een hond is aan ’n boom opgehang naby die gesteelde goedere wat daar gelos is voordat die verdagtes vermoedelik op die vlug geslaan het en ’n ander hond is in ’n sak op die toneel aangetref.Volgens Stoltz word daar vermoed dat die honde die inbrekers gepla het.

“Daar is gedurig ouens wat rondbeweeg in die nag.

“Somtyds voel hulle bedreig en los die gesteelde goed iewers en maak hulle self uit die voete.

“Die honde moes hulle seker gepla het en toe het hulle die honde vermoedelik van kant gemaak,” sê hy.

Dit is onbekend aan wie die honde behoort.

Mario van der Westhuizen, ’n inspekteur van die DBV in Kimberley, sal môre na  Hartswater reis om ondersoek in te stel.

Navrae is aan kapt. Olebogeng Tawana, ’n polisiewoordvoerder, gestuur.

Die polisie het nog nie op navrae regeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.