Raadiya Amien, waarnemende hoof van die Hoërskool Homevale. FOTO: Helena Barnard
Raadiya Amien, waarnemende hoof van die Hoërskool Homevale. FOTO: Helena Barnard

Met ‘n merkwaardige toename van 40,5% is die Hoërskool Homevale in Kimberley die skool in die Noord-Kaap wat die grootste verbetering in die matriekuitslae van 2025 getoon het.

Vanaf 21,1% in 2023, na 46,2% in 2024, na ‘n slaagsyfer van 86,7% wat deur die matrikulante van verlede jaar behaal is, het ‘n beduidende ommeswaai in akademiese prestasie by dié skool wat die Homevale-gemeenskap sedert die 1960’s bedien, plaasgevind.

Met die powere slaagsyfer van 21,1% nog vars in die geheue, is Raadiya Amien in Julie 2024 as waarnemende hoof aangestel.

Leerders van die Hoërskool Homevale tydens Boomplantdag in September verlede jaar. FOTO: Facebook

“Dit was ‘n uitdagende tydperk, veral wat akademiese prestasie en leerdermoraal betref,” vertel Amien wie ‘n gebore en getoë Homevaler is. Omdat sy in dieselfde gemeenskap grootgeword het, verstaan ​​sy die uitdagings, maar ook die potensiaal van die leerders.

“Dit stel my in staat om met empatie, geloofwaardigheid en ‘n sterk sin van verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap, die skool te lei.” Sedertdien was die fokus op stabilisering van stelsels, herstel van vertroue en inwerkingstelling van volhoubare akademiese ingrypings.

Koester begrip vir hindernisse

Amien is al 19 jaar in die onderwysberoep waartydens sy uitgebreide ervaring in verskillende fases en rolle binne die onderwysstelsel opgedoen het.

Voor in die klaskamer het sy ‘n sterk grondslag in kurrikulumlewering, leerderondersteuning en assesseringspraktyke ontwikkel. Met verloop van tyd het sy kennis gemaak met skoolbestuur, akademiese beplanning, personeelontwikkeling en inwerkingstelling van verbeteringstrategieë.

Tussendeur het haar onderrig van Engels huistaal en eerste addisionele taal gehelp om met werklikhede van die klaskamer in aanraking te bly.

LEES OOK: Homevale High raises pass rates with challenging but achievable goals

Dwarsdeur haar loopbaan het sy met leerders van uiteenlopende sosio-ekonomiese agtergronde te doen gehad, wat haar begrip van hindernisse vir dié leerders versterk het.

“Dit het my geloof in gestruktureerde ondersteuning, konsekwentheid en hoë verwagtinge versterk,” vertel sy.

Boonop het die lesse wat sy oor 19 jaar geleer het, haar leierskapsbenadering beïnvloed en was dit instrumenteel in die leiding van die akademiese ommekeer by die skool.

Doelbewuste verskuiwing in denkwyse het plaasgevind

Amien sê egter die dramatiese verbetering was nie weens ‘n enkele ingryping nie, maar weens ‘n veelvuldige, volgehoue ​​strategie wat oor tyd ingestel is.

“‘n Doelbewuste verskuiwing in denkwyse was net so belangrik – opvoeders asook leerders is aangemoedig om te glo dat verbetering haalbaar was. Die vordering oor die afgelope drie jaar weerspieël konsekwentheid, dissipline en kollektiewe poging,” sê sy.

Die skoolgeboue, in die laat 1960’s gebou, is verouder en benodig instandhouding.

Amien sê terwyl veiligheid en funksionaliteit ‘n voorkeursaak bly, is die infrastruktuur-uitdagings reeds deur departementele prosesse gekommunikeer en bly hoop bestaan dat departementele ingrypings dit sal aanspreek.

Ongeag beperkte hulpbronne bied die skool leerders geleenthede om aan sport soos sokker, netbal, rugby, krieket, skaak en hokkie deel te neem.

“Dit word aangemoedig omdat dit dissipline, spanwerk en leerderbetrokkenheid bevorder. Buitemuurse aktiwiteite speel ook ‘n belangrike rol om leerders gemotiveerd en met die skoolomgewing verbind te hou,” sê sy.

Amien bedank die departement van basiese onderwys, Phakama-navorsing en ontwikkeling, Kagiso Shanduka Trust, Itec Kimberley en verskeie gemeenskapsvennote wat leerderprogramme en welstandsinisiatiewe ondersteun het.

“Selfs klein bydraes – akademiese ondersteuning, hulpbronne of aanmoediging – het ‘n betekenisvolle verskil in die lewe van ons leerders gemaak,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article