Hoender-en-sampioenpastei in individuele bakkies.

Foto: SA Mushroom Farmers’ Ass.

Hoender-en-sampioen-potpasteie

Lewer 4 groot individuele pasteie 

Bestanddele:

1 klein, heel plaashoender, ± 1 kg 

2 e. olyfolie

2 e. botter 

1 ui, gekap

1 groot prei, gewas en in skywe gesny

2 stingels seldery, in skywe gesny

4 knoffelhuisies, fyn gekap

1 t. gedroogde kruie

1 e. vars tiemieblare

 50 g meel

500 ml hoenderaftreksel

250 ml volroom melk

80 g vars of bevrore ertjies (ongeveer ’n ½ koppie) 

500 g sampioene, in skywe gesny 

1 x 400 g rol gekoopte skilferkorsdeeg

1 groot eier, liggies geklits  

Olyfolie

Sout en peper na smaak 

Metode: 

Voorverhit die oond tot 200 °C. Vryf die hoender met sout, peper en olyfolie. Plaas in ’n roosterbak en rooster vir ± 60 minute tot heeltemal deurgaar. Laat vir 20 minute rus. 

Sny die hoendervleis in repies. 

Gebruik die karkas om jou eie tuisgemaakte hoenderaftreksel te maak. Doen dit deur water by die vloeistof wat in die bak agtergebly het, te voeg totdat dit 500 ml in totaal is. Kook die karkas verder hierin terwyl jy die ander voorbereidings doen.  

Verhit die botter en olyfolie in ’n oondbak of diep soteerkastrol. Voeg die ui, prei en seldery by – maak gaar tot sag. Voeg die knoffel, gedroogde kruie en vars tiemie by. Kook tot die knoffel geurig is. 

Voeg die meel by en hou vir ’n verdere minuut op die hitte.

Gooi die hoenderaftreksel by terwyl jy vinnig roer om die meel in die vloeistof in te meng. Voeg die melk by en prut vir ongeveer 5 minute tot verdik. 

Roer die ertjies en die repies hoender by. Proe om geurmiddels aan te pas. Verwyder van die hitte en sit eenkant. 

Verhit ’n klein bietjie olyfolie in ’n groot braaipan. Soteer die sampioene tot goudbruin en tot al die vloeistof verdamp het. Geur. Vou die goudbruin sampioene in die res van die vulsel in. 

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Kies vier groot ramekins, oondbakkies, klein gietysterpotjies of pannetjies. 

Rol die deeg effens uit op ’n meel-bedekte oppervlak en sny pastei deksels uit.

Gebruik die bakkies om te meet.

Maak die bakkies vol met die hoender-en-sampioenvulsel. 

Sit die skilferkorsdeeg bo-op, druk die randte vas om die pastei te verseël. 

Maak vier klein snytjies in elke pastei se kors.

Verf met die geklitste eier. Bak vir ± 35 minute tot goudbruin en die deeg deurgaar en perfek bros is. 

Bedien met ’n slaai. 

Resep: The South African Mushroom Farmers’ Association

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article