Een van vanjaar se 35 finaliste in die tydskrif Sarie se voorbladgesigkompetisie is net so klassiek en uniek soos die tydskrif self. Boonop is Sarie die eerste keer publiseer in die jaar dat dié skoonheid gebore is.
Uit die hartjie van die Oos-Vrystaat het die stylvolle Ansie Fourie (76) van Ficksburg opslae gemaak toe sy op haar ouderdom as ‘n finalis in die gewilde kompetisie aangewys is.
“Wie sou nou ooit kon dink dat ek op 76 jaar een van die 35 finaliste in die kompetisie sou wees. Daar is soveel mooi vroue; ek was werklik stomgeslaan,” sê sy.
Twee vriendinne van Fourie wat saam met haar Pilates-klasse neem, het haar vir die kompetisie ingeskryf.
“Jana Uys en Noeline de Beer, saam met wie ek oefen, het een middag met ‘n rekenaar by my opgedaag en my paar vrae gevra – die res is geskiedenis. Ek het van die kompetisie vergeet, totdat my dogter Mareli de Bruin uit Londen my laat weet het dat ek ‘n finalis is.”

Uit die 35 finaliste word sewe topfinaliste gekies, waarvan twee as wenner in hul onderskeie afdelings aangewys word. Hoewel Fourie nie die topsewe gehaal het nie, meen sy dit is steeds ‘n reuse-voorreg en dat die geleentheid vir haar deure oopgemaak het. Die kompetisie het haar aangespoor om haar buiging as “granfluencer” op die sosiale media te maak.
Hiervoor het sy by Magriet Groenewald, wat kliënte aanlyn bemarking en vaardighede leer, gaan aanklop.
“Ek kon skaars WhatsApp, wat nog te sê van inhoud maak vir sosiale media; daarom is ek Magriet ewig dankbaar vir haar leiding en hulp hiermee.”
Dit is juis Groenewald wat haar anders laat dink het oor die sosiale media, waaroor sy eers baie skepties was.
“Sy het my aangemoedig en gesê my wysheid, lewenservaring, waardigheid en energie inspireer ander vroue. Dit is immers nooit te laat om ‘n verskil in ander se lewe te maak nie, en daarom moet ek sosiale media met altwee hande aangryp. So het my kreatiwiteit nuwe vlerke gekry.”
Fourie is ‘n stylguru wat lief is vir interessante klere, hoede en brille om haar unieke styl saam te stel. Haar hande staan vir niks verkeerd nie – sy het baie vaardighede en talente. Boonop oefen sy daagliks en is bekend as die Hoelahoepel-koningin.
“Ek kan hekel terwyl ek hula hoop, en dit is gewoonlik my partytjie-truuk.”
Fourie het ook onlangs ‘n besigheid genaamd Hoola-la aanlyn begin, waar ‘n mens verskillende groottes hoelahoepels kan bestel.
Sy sê sy aanvaar niks in die lewe as vanselfsprekend nie, en sy glo dat die liewe Heer mense en geleenthede oor ‘n mens se pad stuur; so word ‘n verskil in ander se lewe meegebring.
Fourie is al 51 jaar met haar man, De Vaal, getroud en die egpaar het vier kinders. Hul drie dogters woon oorsee en hul seun is in Suid-Afrika. Tans woon die egpaar in Ficksburg.
Fourie, oorspronklik van Senekal, het op die plaas Lelievlei grootgeword. As jong meisie het sy haarself as maatskaplike werker in Bloemfontein bekwaam en haar loopbaan het aan die departement van korrektiewe dienste in Kroonstad begin. Deur die jare was sy ook al plaasvrou en motiveringspreker.
Haar boodskap vir Vrouemaand is: “Herontdek jouself, asook jou talente, en reik verby gemaksones; gryp elke geleentheid aan. Ouderdom is nie as ‘n terugslag nie, maar jou beste bate. Ek bid en spit, spit en bid, en ek hou in gedagte dat ‘n koei wat gaan lê, vrek.”



You must be logged in to post a comment.