Hoekom floreer party dorpies en ander verval? Bun Booyens, joernalis, beantwoord vrae oor dié verskynsel.
Die situasie in die meeste Suid-Afrikaanse dorpe is haglik. Is daar darem iets wat jou moed gee?
Die slegte nuus is op ’n manier ook die goeie nuus. Swak munisipale bestuur in ’n klein dorpie is meer vernietigend as in ’n grote, want in ’n groot dorp is daar drie of vier bestuursvlakke waar dienste nog aan die gang gehou kan word, maar een swak leier kan ’n kleiner dorp knak.
’n Versoolde kader word van buite af herontplooi en dan ontspoor dinge vinnig. Net so kan ’n enkele goeie leier ook baie doen om ’n dorp weer op dreef te kry.
In die meeste dorpe is dit die munisipaliteit self wat in duie stort. Wat staan mense te doen?
Ek het ’n taamlik kragdadige voorstel: Halveer jou burgemeester en munisipale bestuurder se salaris en betaal die res eers nadat hulle dít gelewer het waarvoor hulle gekontrakteer is: meetbare mikpunte vir basiese dienste soos water- en elektrisiteitsverskaffing, die onderhoud van paaie en vullisverwydering.
Vat ’n situasie soos onlangs in Upington, waar die dorp se vullis nie verwyder is nie en die stadsvaders haal net hul skouers op en sê ja, maar net twee van die dorp se nege vullistrokke loop. Wel, waarvoor word daardie amptenare dan betaal? Sal ek vir ’n tuindiens betaal wat nie by my huis opdaag nie omdat sy bakkie stukkend is? Nee. Sal ek vir ’n ete betaal as ek ’n steak bestel en net ’n halwe samoesa kry? Nee.
Is ’n belastingboikot dalk die antwoord?
Dit is sterk woorde, maar ons moet wel vra wat staan ons te doen wanneer ’n plaaslike owerheid aan alle fronte versuim om sy werk te doen. Daar is selde reperkussies vir die amptenare. Kyk in hoeveel plaaslike besture hou die raadslede hulself besig met kinderagtige mosies van wantroue en ’n oorlopery. Hulle speel vroteiertjie en tussendeur stel hulle mense met ’n ernstige misdaadrekord in senior poste aan. Raadslede wat sulke besluite neem behoort voor die hof gedaag te word en as die bevinding teen hulle is, behoort hulle ’n kostebevel vir hul eie sak te kry.
Hoe keer ’n mens dat swak leiers in die eerste plek aangestel word?
Ek dink die Menseregtekommissie se aanbeveling dat daar minimum kwalifikasies vir senior munisipale amptenare moet wees, is ’n goeie begin en op lang termyn moet kaderontplooiing as ongrondwetlik verklaar word.
Jy sê ook ’n gemeenskap wat ’n dorp wil regruk, moet eers probeer om welslae met iets kleins te behaal. Byvoorbeeld?
Die eenvoudigste vertrekpunt is waarskynlik om jou buurt tot ’n Special Rating Area (SRA) te laat verklaar sodat julle enige ekstra inkomste of heffings opsy kan sit vir projekte in daardie buurt. So kry jy darem ’n mate van beheer oor wat gedoen word en wie gekontrakteer word om die werk te doen. Dit is ook ’n goeie belegging om jou eiendom se waarde te beskerm.
Hoe gaan jy te werk om ’n SRA te stig?
Die regulasies is aanlyn beskikbaar, maar dit kom daarop neer dat ’n meerderheid van die inwoners van ’n buurt of gebied dit moet goedkeur en dan moet jy ’n sakeplan en begroting indien om te sorg dat jou projek versoenbaar is met munisipale planne en regulasies.
En buite amptelike kanale?
Enigiets wat help om ’n gemeenskapsgevoel te kweek. Kyk net hoeveel vrywilligers help Saterdae by ’n parkrun. Hoekom? Daar is ’n samehorigheidsgevoel, plus daardie vrywilligers het beheer oor hoeveel tyd hulle afstaan. Dieselfde beginsels sal geld vir ’n projek om jou dorp te verbeter. Kies iets wat afgehandel kan word. Dan begin mense vorentoe kyk eerder as agtertoe.
Het jy ’n munisipale voorbeeld van welslae met iets kleins?
Ek het ’n voorbeeld van ’n gebrek aan welslae met iets kleins. Ek was onlangs drie keer in ’n buurdorp om my paspoort by binnelandse sake te laat hernu. Dan staan jy daar in die ry op die sypaadjie in die son vir ’n uur of drie, jy kyk om jou en sien die straat se teer is besig om te verbrokkel, die geboue oorkant die pad lyk oes . . . en dit is die manier hoe jou streek se hoofdorp mense van buite verwelkom.
Die kantoor van die politieke party in beheer van die dorp is skaars twee straatblokke verder. Die mense sit daar binne en jy wonder of hulle ooit deur hul eie dorp stap om te kyk wat hulle kan doen. Kry dan bloot die munisipaliteit om vir kleingeld daardie straat te teer. Vra dat hulle die ondernemings – daar’s net ses of sewe in daardie straat – belastingkorting gee om die voorkant van hul geboue te verf. Gee ’n konsessie aan iemand om koffie uit ’n stalletjie daar te verkoop aan die mense wat so toustaan. Hoe moeilik is dít? Jy kan dit letterlik binne ’n maand afhandel en so begin bou jy ’n gemeenskap rondom iets kleins.
Voorbeelde van dinge wat wel gewerk het?
Kom ek gooi die vraag terug. Jaar ná jaar is daar ’n Dorp van die Jaar-kompetisie in Suid-Afrika en dit is dan gewoonlik maar die skilderagtige dorpies wat wen. Wat van ’n kompetisie vir die dorp met die beste projek wat gesamentlik deur die inwoners en die munisipaliteit voltooi is? So sal elke dorp in die land goeie voorbeelde kry van wat vermag kan word.
Jy sê ook klein dorpies moet dinge op wêreldstandaard aanbied. Is dit realisties?
Dit klink ’n bietjie teatraal, ek weet, maar ek praat eintlik van klein goedjies. Hou in gedagte, mense sal bereid wees om iewers langs die pad te stop vir iets kleins soos ’n koppie koffie, maar nié as dit kitskoffie in ’n “foamalite”-bekertjie is met ’n dekseltjie wat nie lekker pas nie.
Jy stop in ’n dorp en gooi R1 000 se petrol in, maar dan moet jy R2 betaal om hul badkamer te gebruik. Gaan jy weer daar stilhou? Nee. Daai plek verloor R1 000 se omset weens daai R2.
Interessante oorsese voorbeelde wat jy teëgekom het?
Daar is baie. In Amerika gebruik hulle onbenutte spoorlyne as fietsroetes. Hulle vul net die ruimte tussen die twee spoorstawe met grond op. Dit werk goed omdat treinroetes sulke egalige hellings het.
Op Australië se platteland het ’n paar dorpies hul bergfietspaaie in een lang Camino-agtige “trek” verbind, met eetplekke en herberge langs die pad. Ek dink daar is potensiaal vir sulke dinge in Suid-Afrika.
Jy sê ook elke dorp moet sy nis vind. Hoekom?
Ek kon myself beter uitgedruk het. Elke plek moet sy eie nis skep, soos Bothaville met Nampo gedoen het.
’n Probleem in Suid-Afrika is egter die “vlooimark-effek”. As daar iewers ’n produk is wat flink verkoop, word dit twee weke later op elke fees of mark nageaap. Dit werk ook so met dorpe. Daar is deesdae soveel dorpe wat saans ’n begeleide “spookloop” vir toeriste aanbied, daar is waarskynlik nie genoeg spoke om oral diens te doen nie. Hoeveel “cultural villages” met kralewerk is al met goeie bedoelings deur toerismekantore geskep en dan staan dit ’n jaar later leeg? Hoeveel kunsroetes is daar waar die kunswerke eenvoudig nie op peil is nie? Planne werk waar mense besef hul situasie is deel van ’n makro-tendens wat oor jare ontstaan het. Hulle kry die feite, deurdink die situasie en kom dan met iets oorspronkliks vorendag.


