Van die liggings van die beplande herlaaistasies vir elektriese voertuie in Suid-Afrika.

Foto: verskaf

Die beplande ont­wikkeling en oprigting van 36 herlaaistasies vir elektriese voertuie (EV’s) in die Noord-Kaap is onlangs bekend gestel. Dit sluit die ontwikkeling van 21 herlaaistasies vir passasiers- en ligte handelsvoertuie in, asook 15 vir vragmotors.

Na verwagting behoort die EV-herlaaistasies vir passasiers- en ligte handelsvoertuie teen September 2025 voltooi en in werking te wees. Die oprigting van herlaaistasies vir vragmotors is in die permitproses.

Hierdie 36 herlaaistasies in die Noord-Kaap, deur Zero Carbon Charge (ZeroCC) en Zero Carbon Logistics, is ’n projek van R15,4 miljard wat gegrond is op sonkrag en is onafhanklik van die Eskom-kragnetwerk. Dit word as snelherlaaistasies beskryf waar EV’s se batterye glo binne 20 minute herlaai kan word.

Dit vorm deel van Suid-Afrika se eerste netwerk van 120 herlaaistasies wat ongeveer elke 150 km strategies langs provinsiale en nasionale hoofroetes geleë moet wees. In Mei is die ontwikkeling van 15 EV-herlaaistasies langs hoofroetes in die Vrystaat bekendgestel, en bouwerk aan die eerste herlaaistasie van dié aard het in November langs die N12 by Wolmaransstad begin.

Joubert Roux, medestigter van ZeroCC, sê elk van die herlaaistasies sal ’n ekonomiese hupstoot vir plaaslike gemeenskappe in die Noord-Kaap wees deurdat grondeienaars 5% van die inkomste verdien wat uit die herlaai van EV’s voortspruit, terwyl 1% van die inkomste in plaaslike sosio-ekonomiese ontwikkelingsprojekte belê sal word.

By elke herlaaistasie sal onder meer ’n padstal en toiletgeriewe wees.

EV’s sal toeneem

Volgens ’n verklaring van ZeroCC dui voorspellings in die motor- en energiebedryf daarop dat teen 2027 ongeveer 120 000 EV’s op Suid-Afrika se paaie sal wees, en teen 2030 nagenoeg 360 000.

ZeroCC sê die verhoogde vraag na EV’s oor die wêreld heen, asook motorvervaardigers se neiging na EV’s, kan nie ignoreer word nie.

Andries Malherbe, medestigter van ZeroCC, sê indien die regering EV’s meer bekostigbaar maak deur invoerbelasting te verminder, kan die groei selfs meer wees.

“Daarom belê ons nou in die oprigting van skoon superlaaistelsels wat enige EV teen sy maksimum laaitempo kan laai,” sê hy.

ZeroCC sê die beplande oprigting van EV-herlaaistasies in die provinsie is ook moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Noord-Kaapse provinsiale regering en die Noord-Kaapse ekonomiese ontwikkelingsagentskap (NCEDA).

Die 36 EV-herlaaistasies vir die Noord-Kaapse munisipaliteitsgebiede is in Kai !Garib, Phokwane, Hantam, Emthanjeni, Siyancuma, !Kheis, Ubuntu, Umsobomvu, Khâi-Ma, Siyathemba, Kamiesberg, Namakwa, Gamagara, Dawid Kruiper, Magareng en JB Marks.

Besoek charge.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.