John-Ross Henderson, gewese polisieman wat van moord en poging tot moord op Jayson Afrique, en sy vrou, Michayla, aangekla word, het op Donderdag 28 November in die landdroshof in Kimberley in sy tweede aansoek om borgtog getuig dat hy kort ná die voorval op die toneel was.
Hy het nie sy teenwoordigheid op die toneel kort ná die voorval in sy vorige mislukte borgtogaansoek onthul nie. Sy appèlaansoek teen sy eerste mislukte borgtogaansoek is met ’n nuwe borgtogaansoek op nuwe feite vervang.
Die Afrique-egpaar is op 31 Julie ná 20:00 buite hul huis in New Park voorgelê, en volgens die staat is tien skote op hulle geskiet.
Jayson het vier skietwonde gehad. Die staat voer aan die skieter het die egpaar agtervolg voordat daar op hulle losgebrand is kort voordat hulle met hul bakkie by hul woonkompleks wou inry.
Henderson se selfoon met sy vingerafdruk daarop is naby die egpaar se bakkie op die misdaadtoneel gevind. Die staat voer aan Henderson se klagte die volgende dag by die polisie dat sy foon by ’n vulstasiekafee verlore gegaan het, is ’n rookskerm.
Die hofsaal was soos voorheen vol gemeenskapslede en familielede van die beskuldigde en slagoffers.
Henderson was glo op patrollie
In sy nuwe aansoek het Herholdt Robertson, Henderson se regsverteenwoordiger, sy getekende skets van die misdaadtoneel ingedien.
Private en polisievoertuie, ’n ambulans en mense op die toneel word daarop aangedui.
Volgens Henderson het die polisie nie die toneel afgesper om omstanders weg te hou nie. Daar was glo private mense wat op die misdaadtoneel gestaan en moontlik die toneel besmet het. Bewysstukke kon verlore gegaan het.
Henderson, wat ’n sekuriteitsbesigheid het, was glo op patrollie toe ’n berig oor ’n skietvoorval oor die sekuriteitsradiostelsel ingekom het. Hy is na die toneel waar, Michayla se pa aan hom gesê het daar was ’n skietery.
Mense het met flitse rondgeloop.
Henderson het nie lank vertoef nie en ’n koeldrank gaan koop.
Die beskuldigde voer aan van die skote is vanuit die voertuig geskiet, nie net van buite af nie.
Hy het ’n koeldrankblik en drie worsrol-wegneemetehouers langs die passasiersdeur van die egpaar se bakkie gesien. Hy het onlangs verneem dat die paneelbordkameras van die bakkie intussen verwyder is.
Die bakkie is herstel nadat die polisie dit aan die familie terugbesorg het. Vir dié rede is Henderson ontneem om self ’n ondersoek in die bakkie te doen om byvoorbeeld te probeer vasstel vanwaar die skote afgevuur is. Die staat se tydlyn van gebeure is ook teenstrydig. Sy huis en kantoor is nooit deursoek nie.
‘Feite is nie nuut’
Kago Barnett, aanklaer, het aangevoer dat van die feite nie nuut is nie. Feite uit die vorige borgtogaansoek kan nie weer na vore gebring of herskommel word nie. Hofprosesse mag nie misbruik word nie, en die nuwe feite moet toepaslik wees en ’n doel dien.
Die vorige landdros het reeds bevind dat Henderson met getuienis kon gepeuter het omdat sy verteenwoordigers die bakkie by die paneelklopper opgespoor en afgeneem het.
Hy het nie geantwoord oor wanneer hy gedink het die geleentheid hom sou voordoen nadat die verdediging en vervolgingsgesag hul sake gesluit het nie. Volgens hom was daar nie baie tyd tussen hofsittings om met sy regsverteenwoordiger te konsulteer nie. Hy wou ook nie kort-kort gedurende die hofsitting opspring en instruksies aan sy regsverteenwoordiger gee nie.
Barnett het aan hom gesê dat sy vorige regsverteenwoordiger reeds etlike vrae in kruisondervraging aan die ondersoekbeampte oor die bewaking en bewysstukke op die toneel gestel het.
Henderson gaan glo nog ’n getuie roep wat die “gapings” in die getuienis gaan aanvul.
- Streeklanddros Jan Brits het die saak tot 13 Desember uitgestel.


