John-Ross Henderson
John-Ross Henderson vroeër in die beskuldigdebank. Foto: Charné Kemp

Uit kruisondervraging en aanhoudende vrae oor die integriteit van en onderlinge rusies op die misdaadtoneel, kom dit in die moordverhoor van John-Ross Henderson in die hooggeregshof in Kimberley voor dat die misdaadondersoek betwyfel word.

Henderson word aangekla van die skietdood van Jason Afrique, poging tot moord op Micayla Afrique en twee aanklagte van regsverydeling.

Die Afrique-egpaar is op die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor hul woonkompleks in Blackstraat in New Park, Kimberley, aangeval. Jason het oor sy vrou geval om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op ʼn kort afstand geskiet is. Hy is op die toneel dood.

Jason Afrique
Jason Afrique, die oorledene. Foto: Argief

Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ʼn vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ʼn vulstasie vermis geraak het. Hy het glo ʼn werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.

Kaptein getuig oor misdaadtoneel

Verlede Donderdag het kapt. Johan Etsebeth getuig oor wat hy daardie aand op die toneel aangetref het. Micayla se pa, Sherwin Daniels wat die eienaar van ʼn sekuriteitsmaatskappy is; sy areabestuurder, Jan du Plessis; en Dodds Pringle, ook eienaar van ʼn sekuriteitsmaatskappy en lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) soos Daniels, was reeds op die toneel.

Etsebeth as eerste polisielid het hulle beveel om buite die misdaadtoneel te gaan staan, maar Daniels het geweier. Hy wou die selfoon wat onder die bakkie was oppas voordat dit “voete kry”. Hulle het woorde oor die “belangrike bewysstuk” gehad. Etsebeth het ingegee omdat Daniels se dogter ʼn slagoffer is en hy wat Etsebeth is “medemenslikheid” moet betoon. Volgens Etsebeth het Daniels nie met die toneel gepeuter nie.

Intussen het nog lede op die toneel aangekom. Hy weet nie wie aan hulle die lint gegee het om die toneel af te sper nie. ʼn Skets is aan hom gegee wat Henderson van die toneel geteken het. Hy het glo later op die toneel opgedaag.

LEES OOK: Weduwee getuig oor aand waarin haar man in koeëlreën sterf

Etsebeth het die posisie van sommige voertuie betwis. Hy het toegegee dat twee van Afrique se broers toegelaat is om na die lyk te kyk toe dit uit die bakkie gehaal is. Etsebeth ontken dat hy een van die buurmanne van die woonkompleks gesien het. Hy het met Herholdt Robertson, wie vir Henderson verdedig, verskil oor die aantal mense wat binne en buite die afgesperde toneel gestaan het.

Etsebeth het toegegee dat dit ongewoon was dat burgerlikes gehelp het om die patroondoppies en koeëlfragmente met koshouerdeksels aan te dui.

Op ʼn tydstip is die hof soos dae vantevore ook verdaag sodat daar weer na die hofopname geluister kan word weens adv. Theuns Barnard, staatsaanklaer, se besware dat Robertson “verkeerde stellings” aan getuies maak of hul “antwoorde verdraai”.

Adjunkregterpresident Violet Phatsoane het Robertson meer as een keer versoek om die getuie en tolk kans te gee om volledig te antwoord voordat hy opvolgvrae stel.

Die verhoor is tot 10 November uitgestel.

LEES OOK: Fatal fight at student residence results in murder charge

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article