Volgens ‘n ballistiese kenner van die polisie was die skieter wat op Jason Afrique en sy vrou in hul bakkie geskiet het, naby aan hul voertuig toe die sowat tien skote afgevuur is. Dié voorval het in Julie verlede jaar buite die ingangshek na hul woonkompleks in New Park, Kimberley, plaasgevind.
Die hooggeregshof in Kimberley het Donderdag 13 November dié getuienis van kaptein Luvungo Mlindazwe van die nasionale polisielaboratorium in die verhoor van John Ross Henderson aangehoor.
Henderson word aangekla van die skietdood van Afrique, poging tot moord op Micayla Afrique en twee aanklagte van regsverydeling.

Die Afrique-egpaar is op die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor die hek van hul woonkompleks in Blackstraat aangeval. Jason het oor sy vrou in haar passasiersitplek geval om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op ‘n kort afstand geskiet is. Hy is in die voorval oorlede.
Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ‘n vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ‘n vulstasie vermis geraak het. Hy het ook glo ‘n werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.
Verdagte se pistool het nie die skote afgevuur nie
Mlindazwe het getuig hy het sigaretstompies, ‘n selfoon, pistool, koeëlfragmente en patroondoppies van die misdaadtoneel vir ontleding ontvang, en het ook die voertuig ballisties in Kimberley ondersoek. Die selfoon is aan die passasierskant onder die bakkie gevind.
Die pistool is van Henderson tydens sy inhegtenisname afgeneem. Mlindazwe het getuig dat die pistool nie die een is wat die koeëls afgevuur het nie. Die merke op die patroondoppies, wat dit uniek maak, kon ook nie met ‘n ander misdaad gekoppel word nie.
Die moordwapen, ‘n 9 mm-pistool, is steeds soek.
Mlindazwe se foto’s van die beskadigde bakkie wat hy in die polisie-stoor ondersoek het, het nie “uitgekom nie”. Hy het dus op foto’s van die misdaadtoneel gesteun om dit te rekonstrueer.
Onder kruisondervraging van Herholdt Robertson, namens Henderson, het hy ontken dat die skieter verder gestaan en teen ‘n hoek na die bakkie geskiet het.
“Die skieter was naby, sowat drie meter. Die skote aan die linkerkant van die bakkie is naby mekaar afgevuur. As hy ver weggestaan het, of in ‘n hoek teenoor die bakkie gestaan het, sou meer panele van die bakwerk koeëlmerke en koeëlgate gehad het.”
LEES OOK: Weduwee getuig oor aand waarin haar man in koeëlreën sterf
Hoewel Mlindazwe toegegee het dat die meeste patroondoppies regs uit die vuurwapen sou uitskiet nadat dit afgevuur is, is daar baie ander faktore wat bepaal waar die doppies sou land. Dit is ‘n dinamiese toneel waarin die skieter beweeg en hy dalk van die doppies raak skop. ‘n Steil, of harde en sagte oppervlak, sou ook bepaal of doppies verder sou beweeg of nie.
Mlindazwe het ontken dat die bakkie as ‘n bewysstuk bewaar en nie aan die eienaar teruggegee moes word nie.
“Die bewysmateriaal is die patroondoppies en koeëlfragmente,” sê hy.
Vir Mlindazwe is dit van min belang dat die verdagte ook ‘n geleentheid gegee moes word om die voertuig te bekyk, soos Robertson aangevoer het. Boonop was die verdagte destyds onbekend aan Mlindazwe.
In Henderson se borgtogaansoek is daar baie klem gelê dat die bakkie “voortydig herstel is” wat Henderson die geleentheid ontneem het om sy eie ballistiese kenner aan te stel.
Adv. Theuns Barnard kla aan. Adjunkregterpresident Violet Phatsoane lei die verhoor.
LEES OOK: Henderson vra glo dat video-inligting van kringtelevisie verander word





You must be logged in to post a comment.