Violet Louw, niggie van John Ross Henderson, is een van sy familielede wat hom daagliks by die verhoor ondersteun. Foto Charne Kemp
Violet Louw, niggie van John Ross Henderson, is een van sy familielede wat hom daagliks by die verhoor ondersteun. FOTO: Charne Kemp

John Ross Henderson, wat aangekla word van moord, poging tot moord en twee aanklagte van regsverydeling, het glo drie selfoonnommers gehad in die tydperk van die skietvoorval in Julie 2024 in Kimberley.

Só het ‘n selfoon-analis van die polisie Vrydag 14 November in die hooggeregshof in Kimberley in die deelsverhoor getuig.

Die Afrique-egpaar, Jason en Micayla, is op die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor die hek van hul woonkompleks in Blackstraat in New Park aangeval. Jason het oor sy vrou in die passasiersitplek geval en gesterf om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op ‘n kort afstand geskiet is.

Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ‘n vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ‘n vulstasie vermis geraak het. Hy het ook glo ‘n werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.

Die skietery het daardie aand tussen 20:41 en 20:43 plaasgevind. Videomateriaal toon Henderson het omstreeks 22:26 by die vulstasie aangekom waar hy glo sy selfoon verloor het.

Drie selfoonnommers in twee handstukke gebruik

Lt.kol. Hanlie Conradie het getuig oor die metode en sagteware wat sy gebruik het om die rou data wat sy van die selfoondiensverskaffers ontvang het, te ontleed. Benewens oproepe en SMS’e kon sy ook die liggings van die selfoontorings in Kimberley waarop die selfoonnommers gepieng het, bepaal.

Conradie kan egter nie bepaal of WhatsApp-oproepe gemaak of boodskappe gestuur is nie, want dit registreer as data-verbruik.

Dit blyk Henderson het oor die tydperk wat ontleed is, drie nommers in twee handstukke gebruik. Een handstuk is op die toneel gevind, en die ander een met sy inhegtenisname.

LEES OOK: Henderson-verhoor: Bestaan van video van misdaadtoneel ontbloot

Conradie kon bepaal dat verskillende  SIM-kaarte (verskillende selfoonnommers) in die handstukke gebruik is. Kort ná die voorval moes Henderson ‘n SIM-kaartomruiling van een van sy nommers gedoen het, want op 1 Augustus 2024 was die betrokke nommer weer in die namiddag op die handstuk aktief wat met sy inhegtenisname in September 2024 op hom gevind is. ‘n Derde nommer wat hy gebruik het, was egter net een dag in Junie 2024 aktief.

Op die betrokke aand was van sy nommers aktief, voor en ná die voorval. Een nommer was ná die voorval tot in die oggendure in verskillende plekke in Kimberley met oproepe aktief. Daar was veral een nommer waarmee sy nommer heelwat kere tot in die oggendure gekommunikeer het, en albei fone het heen en weer in Kimberley beweeg.

Conradie het ook die nommers nagegaan van ander selfone wat in die dae voor die voorval, op die dag van die voorval en die maand daarna met Henderson se nommers gekommunikeer het. Van die nommers was van Monique McAnda, sy vervreemde vrou, en van ene Britney van der Merwe. ‘n Ene Shaylon Tobias het ook met hom voor en na die voorval gekommunikeer.

Herholdt Robertson, namens Henderson, sal Conradie in Maart 2026 kruisondervra wanneer die deelsverhoor hervat.

Adv. Theuns Barnard kla aan. Adjunkregterpresident Violet Phatsoane lei die verhoor.

LEES OOK: Henderson-verhoor: ‘Skieter het naby bakkie gestaan toe 10 skote afgevuur is’

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article