Die misdaadtoneel is moontlik gekontamineer omdat die regte prosedures oor die bestuur van misdaadtonele glo nie tot op die fynste besonderhede gevolg is nie. Só het die hooggeregshof in Kimberley op Maandag 10 November gehoor in die verhoor waarin John Ross Henderson van die moord op Jason Afrique aangekla word.
Dit het boonop aan die lig gekom dat ‘n video wat ‘n polisielid op die toneel geneem het, nooit aan die aanklaer of die verdediging openbaar is nie.
Henderson word aangekla van die skietdood van Afrique, poging tot moord op Micayla Afrique en twee aanklagte van regsverydeling.

Die Afrique-egpaar is die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor die hek van hul woonkompleks in Blackstraat in New Park aangeval. Jason het oor sy vrou in haar passasiersitplek geval en gesterf om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op ‘n kort afstand geskiet is.
Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ‘n vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ‘n vulstasie vermis geraak het. Hy het ook glo ‘n werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.
Werkswyse op misdaadtoneel ‘teenstrydig’ met vereiste praktyk
Sers. Tsepo Mogoiwa van die forensiese afdeling het later die aand by die toneel aangekom. Hy het getuig hy het twee sigaretstompies en tien patroondoppies, asook die selfoonhandstuk wat onder die bakkie gevind is, in bewysstuksakke verseël. Hy het DNS-monsters en vingerafdrukke van die selfoon en die omhulsel geneem.
Volgens hom was daar twee linte om die misdaadtoneel gespan. ‘n Klomp mense het by die lint wat die verste weg was, gestaan. Op die toneel het hy sy polisiekollega gewaar en sy het die toneel aan hom uitgewys en waar die patroondoppies met koshouerdeksels bedek was. Hoewel hy persoonlike beskermingstoerusting aangehad het, het sy kollega dit nie ten tyde van die uitwysing van bewysstukke aangehad nie.
LEES OOK: Weduwee getuig oor aand waarin haar man in koeëlreën sterf
Herholdt Robertson, namens Henderson, voer aan dié werkswyse was teenstrydig met die vereiste praktyk ingevolge polisiehandleidings. Die drie mans (waarvan een Micayla se pa) wat eerste op die toneel was, het glo die deksels daaroor geplaas. Al drie die mans werk by veiligheidsmaatskappye. ‘n Vierde man het later by die toneel opgedaag. Die oorledene se twee familielede is ook op die toneel toegelaat om na die oorskot te kyk.
Mogoiwa het egter ontken dat hy die drie betrokke mans wat nie lede van die polisie was nie, gesien het. Volgens hom is die lyk nooit op die grond neergesit toe die familielede daarna gekyk het nie. Dit is direk in ‘n wit sak op ‘n draagbaartrollie gelaai. Die familielede was aan die regterkant van die bakkie, nie aan die linkerkant waar die bewysstukke gelê het nie.
Hy het ook getuig dat hy nie weet van getuieverklarings dat die selfoon onder die bakkie uitgeskuif is nie. Hy dring daarop aan dat die selfoon heeltyd onder die bakkie gelê het voordat hy dit in ‘n bewysstuksak geplaas het. Die selfoon word ook net in een posisie in sy aanvanklike handskets en rekenaarsketse aangedui, nie in twee verskillendes nie.
Bestaan van video-opname erken
Mogoiwa het getuig dat hy “vreemde goed” op die toneel opgemerk het, waarna hy toegegee het die toneel was moontlik gekontamineer.
Op ‘n vraag of hy die toneel afgeneem het, het hy gesê hy het ‘n video-opname gemaak, wat nuus vir Robertson was. Mogoiwa het ontken dat hy dit geheim gehou het.
Robertson het gevra of dit regsverydeling is, waarna adv. Theuns Barnard, aanklaer, beswaar aangeteken het omdat die getuie nooit gesê het hy “steek dit weg nie”. Adjunkregterpresident Violet Phatsoane het Robertson versoek om meer professioneel te wees.
Die staat gaan die video kopieer en aan die verdediging oorhandig.
Die verhoor duur voort.
LEES OOK: Metro-polisiebeampte sterf tragies aan diens in Kensington



You must be logged in to post a comment.