Ross Kirby Henderson, pa van John-Ross Henderson, die gewese polisieman wat van moord en poging tot moord op Jayson Afrique, en sy vrou, Michayla, aangekla word, het Vrydag 13 Desember in die landdroshof in Kimberley in die tweede aansoek om borgtog getuig dat hy self ook ondersoek instel na die gebeure.
Henderson sr. het homself aan die hof voorgestel as die voorsitter van die Noord-Kaapse South African National Civics-organisasie, ’n regsgeleerde en ondersoeker wat tenderbedrog ontbloot. Hy voer aan die polisie se ondersoek laat veel te wense oor.
Sy seun se borgtogaansoek het voorheen misluk, en is met ’n borgtogaansoek met nuwe feite vervang. In sy vroeëre getuienis het die beskuldigde openbaar dat hy op die toneel was en dat dit nie afgesper was nie.
Die Afrique-egpaar is na 20:00 op 31 Julie buite hul huis in New Park in Kimberley voorgelê, en volgens die staat is tien skote op hulle geskiet. Jayson het vier skietwonde gehad. Die staat voer aan die skieter het die egpaar eers agtervolg voordat daar op hulle losgebrand is kort voordat hulle met hul bakkie by hul woonkompleks wou inry.
Henderson jr. se selfoon met sy vingerafdruk daarop is naby die egpaar se bakkie op die misdaadtoneel gevind. Die staat voer aan Henderson se klagte, die volgende dag by die polisie dat sy foon by ’n vulstasiekafee verlore gegaan het, is ’n rookskerm.
Henderson jr., wat die aanklagte ontken, het vroeër ’n getekende skets van die misdaadtoneel ingedien. Hy was ’n sekuriteitswag wat naby die toneel was toe hy op die roepradio van die voorval hoor, waarna hy daarheen is. Sekere privaatvoertuie, polisievoertuie en ’n ambulans en mense op die toneel is op sy skets aangedui wat by die hof ingedien is.
Volgens Henderson jr. het die polisie nie die toneel afgesper om omstanders weg te hou nie. Daar was glo privaatmense wat op die misdaadtoneel gestaan en moontlik die toneel besmet het. Hy voer aan van die skote is vanuit die voertuig geskiet, nie net van buite af nie. Hy het ’n koeldrankblik en drie worsrol-wegneemetehouers langs die passasiersdeur van die egpaar se bakkie gesien.
Pa stel self ondersoek in
In Henderson sr. se getuienis het hy vertel dat hy self ondersoek na die gebeure instel. Hy is ná sy seun se inhegtenisname na die polisie se SAPD 13-eiendomstoor om self die koeëlgate in die bakkie te ondersoek. Daar gekom het die polisielede aan hom gesê dit is deur die eienaar kom haal en na ’n paneelklopper geneem. Die eienaar van die paneelklopper-onderneming wou nie besonderhede verskaf oor die versekeraar wat vir die bakkie se herstel betaal nie. Die eienaar wou ook nie die werkskaart, wat die herstelwerk aan die bakkie beskryf, verskaf nie.
Henderson wag nog op inligting van die versekeraar.
Op die foto’s van die bakkie se buitepanele wat hy geneem het, is die aanboordkameras nie sigbaar nie. Een van sy informante het hom later meegedeel dat daar wel kameras aan boord was.
Nog ’n informant het aan hom van ’n polisievrou vertel wat na die selfoon gekyk het sonder die nodige magtiging. Henderson sr. glo ook nie een van die ondersoekbeamptes het die nodige ervaring nie. Hy beweer die ondersoekbeampte wat voorheen getuig het, is onbevoeg.
Kago Barnett, aanklaer, het in kruisondervraging aan Henderson gesê die feit dat die staat nie bewyse indien om sy bewerings te weerlê nie, beteken nie sy bewerings is waar nie. Die beskuldigde sal weldra die ondersoekdossier ontvang voor die verhoor begin.
Sy meen Henderson se inligting is van min waarde, want hy kan nie sê wie sy informante is, en waar en wanneer die polisievrou glo na die selfoon gekyk het nie. Nog minder kan hy bewys dat daar aanboordkameras in die bakkie was of verwyder is.
Henderson het heftig met haar verskil.
Herholdt Robertson verteenwoordig vir Henderson.
Streeklanddros Jan Brits het die saak tot Woensdag 18 Desember uitgestel.


