John Ross Henderson.
John Ross Henderson. FOTO: Charné Kemp

ʼn Werknemer by ʼn vulstasie het Woensdag 12 November in die hooggeregshof in Kimberley onder kruisondervraging in afgemete woorde volgehou dat die moord-aangeklaagde haar gevra het of sy of ʼn tegnikus die datum en tyd op ʼn kringtelevisie-video waarop die aangeklaagde verskyn kon terugdateer.

John Ross Henderson, wat aangekla word van die skietdood van Jason Afrique, en poging tot moord op sy vrou, Micayla Afrique op 31 Julie 2024 voor hul huis in Kimberley, en twee aanklagte van regsverydeling, ontken dat hy die versoek aan die werknemer gerig het.

John Ross Henderson
John Ross Henderson word deur polisielede begelei. FOTO: Charné Kemp

Die Afrique-egpaar is daardie aand omstreeks 20:41 in hul bakkie voor die hek hul woonkompleks in Blackstraat in New Park aangeval. Jason het oor sy vrou in haar passasiersitplek geval en gesterf om haar teen die meer as tien koeëls te beskerm wat op  ʼn kort afstand geskiet is.

Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en daardie nag omstreeks 00:30 glo ʼn vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon op die aand van die voorval by ʼn vulstasie vermis geraak het. Hy het ook na bewering  ʼn werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.

LEES OOK: Verdagte se selfoon op moordtoneel in Kimberley gevind

Stefanie Bekker, wat by die Awie Botha Motors en Engen-vulstasie in Longstraat werk, het getuig dat sy en Henderson mekaar lankal ken omdat hulle naby mekaar woon.

Volgens haar het hy op 1 Augustus na haar gekom en gevra of daar kringtelevisiemateriaal op hul stelsel is van die vorige aand, want sy selfoon het daar vermis geraak. Sy het dit vir hom gewys. Hy het haar gevra of sy met haar selfoon ’n video daarvan kom neem en aan ’n betrokke nommer stuur. Later die dag het hy met ’n nuwe versoek teruggekom. Dié keer wou hy weet of sy, of hul tegnikus die datum en tyd op die video na die vorige dag kon verander. Sy het gesê dit is onmoontlik.

Die polisie het later in Augustus na haar gekom om die videobeelde af te laai. Dié beelde is aan die hof vertoon en sy het beskryf wat daarin gesien kan word.

LEES OOK: Bestaan van video op misdaadtoneel ontbloot | NovaNews

Henderson kom omstreeks 22:26 van die sakekern se rigting af en maak glo ʼn U-draai in die besige straat. Dan kom hy nader en parkeer voor die kantoorgebou nadat hy ook agteruit gery het. Hy klim uit, gaan die winkel binne maar kyk ook by die venster uit. ʼn Man wat buitekant die venster staan probeer sy aandag trek waarna Henderson uitloop en met die onbekende man praat. Die man beduie na Henderson se bakkie, maar Henderson draai nie om na die bakkie te kyk nie. Henderson loop weer vlugtig die winkel binne voordat hy uitloop en met sy bakkie vertrek. Hy het niks in die winkel gekoop nie. 

Volgens Bekker kon hulle op die kringtelevisiemateriaal sien ʼn ander persoon maak Henderson se bakkie se deur oop en is daarin besig, voordat hy weer loop.

Herholdt Robertson, namens Henderson voer aan sy kliënt  het ʼn ryloper op die hoek van Long en Waterwork-straat opgelaai en later naby die vulstasie afgelaai. Hy wou iets te ete of drinke by die vulstasie koop. Henderson onthou dat hy met die man buite die ingangsdeur gepraat het, maar nie die inhoud van die gesprek nie.

Voorts erken hy dat hy die volgende oggend na Bekker toe is om na die beelde te kyk, maar ontken dat hy ʼn teruggekeer het met die versoek om die inligting op die beelde te verander. Hierop het Bekker gesê “dit is ʼn leuen, hy was daar hy het my gevra om bedrog te pleeg.”

Adv. Theuns Barnard kla aan. Die verhoor voor regter Violet Phatsoane duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article