Alouette II-helikopter
Die Alouette II-helikopter waarin die drie gesterf het. FOTO: Facebook

DANIëLSKUIL – Drie jong mense, waarvan een ‘n wildsveearts, is Sondagmiddag 26 Oktober dood toe die helikopter waarin hulle gevlieg het, in die bergagtige terrein naby Daniëlskuil in die Noord-Kaap neergestort en aan die brand geslaan het.

Die insittendes was die veearts, dr. Alwyn Venter; sy veearts-assistent Angelo Robbertse; en die vlieënier Anlo Ferreira. Hulle was glo van die plaas Elandsvlakte na Olifantshoek onderweg toe die Sud Aviation SE 3130 Alouette II-helikopter teen die Kuruman-heuwels vasgevlieg, neergestort en aan die brand geslaan het.

“Puik mense wat te vroeg uit die lewe weggeruk is.” Só beskryf Piet du Toit van die Rustenburg-omgewing en bekende in wildbedryfkringe, dié drie wat oorlede is. Du Toit is die eienaar van die helikopter.

Angelo Robberts (links) en dr. Alwyn Venter by ‘n swartwitpens wat hulle in die uitvoering van hul veeartsenykundige dienste verdoof het. Foto: Facebook / Nyumbu Wildlife
Anlo Ferreira. Foto: Instragram

Hy sê Ferreira was soos ‘n kind in hul huis, en ook sy dogter se kêrel. Volgens hom was Ferreira een van die beste vlieëniers wat hy geken het. Hy het Venter die afgelope ses jaar ook goed leer ken, en sê hy was geweldig bewaringsbewus.

Die oorledenes was tussen 23 en 35 jaar oud. Venter het in Pretoria gewoon, en Ferreira in die Rustenburg-omgewing.

Op ‘n plasing op die Facebook-blad van Nyumbu Wildlife word gesê dat Venter meer as ‘n veearts was. Hy word as ‘n vriend en gids beskryf, en as iemand wat met mens én dier vertrou is.

Oor Robbertse word geskryf: “Angelo’s quiet dedication and kind spirit always shone through in every visit. Together, they brought comfort, care, and laughter to our farm and to so many others“. Robbertse se suster, Anysha Robbertse, skryf op haar Facebook-blad dat hy haar “heel beste maatjie was. Hoe aanvaar ek dat jy nou net… weg is?”

LEES OOK: Three killed in Northern Cape helicopter crash

Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Daniëlskuil het ‘n geregtelike doodsondersoek begin. Die Burgerlugvaartowerheid sal ‘n omvattende ondersoek na die oorsaak van die ongeluk doen en die voorlopige verslag word binne 30 dae ná die voorval verwag.

You need to be Logged In to leave a comment.