Hekkiesatleet gee nie moed op met droom

Haar droom om die beste hekkiesatleet te wees, het op die ouderdom van tien jaar begin, vertel Keila Fourie (16).


Haar droom om die beste hekkiesatleet te wees, het op die ouderdom van tien jaar begin, vertel Keila Fourie (16).

Dié leerling aan die Hoërskool Kalahari in Kuruman het vir vyf jaar lank nie verder as Noord-Kaap-byeenkomste gevorder nie, maar het net harder en harder gewerk om haar doel te bereik. Sy was glad nie van plan om moed op te gee nie.

Foto: Erena Oberholzer

Keila Fourie spring vir goud. Foto: Erena Oberholzer

Ná baie sweet en trane het Keila in 2019 vir die eerste keer SA’s gehaal, maar weens die Koronavirus-pandemie weet sy nie of sy vanjaar weer die geleentheid gaan kry om haar droom nog ’n keer te bewaarheid nie.

Sy het ook na haar eerstespan-netballoopbaan uitgesien, maar weens inperktyd moes sy haar netbal-bal vir eers wegpak.

Keila erken sy mis die uitdaging om haar liggaam tot die uiterste op die sportveld te beproef, maar is trots op wat sy tot dusver bereik het.

Erena Oberholzer

Keila Fourie in aksie op die netbalbaan. Foto: Erena Oberholzer

Vanjaar het sy op die top-20-atletiekbyeenkoms in Hartswater ’n silwermedalje in die 100 m-hekkies vir o.17-meisies behaal.

In 2019 is sy as beste junior baanatleet aangewys en in 2018 en 2017 het sy SA’s gekry vir landloop.

Sy is ook in 2018 deur haar skool as beste veldwerker in krieket aangewys.

Op laerskool aan die Hoërskool Danielskuil, is sy vir drie jaar in ’n ry as sportvrou en veelsydigste sportvrou aangewys.

“Ek glo alle mense het talente en met harde werk en toewyding kan elkeen sy droom bereik.”

Haar leuse is: “Jy sê nie jy kan nie, jy sê jy kan”.

Akademies staan sy ook glad nie agter in die ry nie en was van gr. 1 af elke jaar in die top-5. Hiermee het sy volle erekleure vir akademie verwerf.

Keila sê sy is ’n ekstrovert en hou van die plaaslewe. Sy geniet dit om saam met haar ouers, Jans en Annalie Fourie van Daniëlskuil, en broer Thys, ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Kalahari, die koppies in die Kalahari uit te klim.

You need to be Logged In to leave a comment.