Met die Square Kilometre Array (SKA) se middel- en laefrekwensie-antennas wat in onderskeidelik Suid-Afrika en Australië opgerig gaan word, sal wetenskaplikes kan terugkyk na die vroeë geskiedenis van die heelal – die kosmiese dagbreek, toe die heel eerste sterre en sterrestelsels gevorm het.
Die SKA-sterrewag (SKAO) het Maandag (05/12) die begin van bouwerk aan dié radioteleskoop in Suid-Afrika en Australië gevier. Boukontrakte van sowat R5,5 miljard is aangekondig.
Prof. Philip Diamond, direkteur-generaal van die SKAO, het na Wes-Australië gereis om die sterrewag op die terrein van die toekomstige SKA-lae-teleskoop te verteenwoordig, terwyl dr. Catherine Cesarsky, raadsvoorsitter, die geleentheid by Carnarvon bygewoon het waar die SKA-mid-teleskoop opgerig gaan word.
“Die SKA-projek is al baie jare in wording. Vandag kom ons hier byeen vir nog ’n belangrike hoofstuk in die 30 jaar lange reis waarop ons saam was. ’n Reis om die wêreld se grootste wetenskaplike instrument te lewer.
“Ná 18 maande van intense aktiwiteite oor die wêreld heen, begin ons nou met die bou van die SKA-teleskope,” het Cesarsky gesê.
Oor die afgelope 18 maande is meer as 40 kontrakte ter waarde van bykans R2,8 miljard reeds deur die sterrewag aangegaan.
Ed Husic, Australië se minister van nywerheid en wetenskap, en dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, het aangekondig sowat R3,6 miljard is aan Australiese en Suid-Afrikaanse maatskappye beskikbaar gestel om van die uitgebreide infrastruktuur te lewer wat vir die radioteleskope benodig word.
Die SKAO het ook kontrakte van sowat R1,8 miljard aangekondig om die antennas vir albei teleskope in die twee lande te vervaardig. Dit bring die totale bedrag vir konstruksie wat tot dusver deur die sterrewag toegewys is, op byna R9 miljard te staan.
Tydens die nuwe fase sal daar in Suid-Afrika 133 SKA-skottels by die bestaande 64 van die SKA-voorloper-teleskoop MeerKAT gevoeg word.
Mededingende tenders is uitgesit om die teleskope se hoofkomponente, die antennas en skottels self, aan te skaf. Onderdele sal in verskeie lande vervaardig word, insluitend Italië, Spanje en Suid-Afrika. Die SKA-teleskoop sal van die SKAO se hoofkwartier by Jodrell Bank, naby Manchester in Engeland, bestuur word.


