Kgomotso Mpumlwana (42) wat glo die meesterbrein is van die voorval in Julie 2020 waarin Dan en Breggie Brand en hul dogter, Elzabie Brand, van hul kleinhoewe buite Hartswater ontvoer en vermoor is, het die gesteelde selfone en skootrekenaars in haar kamer toegesluit, foto’s van haarself op een van die gesteelde selfone geneem en beveel dat een van die gesteelde motors gewas word voor dit verkoop word.
Dit is aanduidend van haar leiersrol in die grumoorde, het adv. Mary-Ann Engelbrecht, staatsaanklaer, dit Maandag 20 Mei in kruisondervraging in die hooggeregshof in Kimberley aan Mpumlwana gestel.
Engelbrecht voer aan Mpumlwana het die motor bestuur en het haar meelopers na ’n tradisionele geneser gebring vir ’n ritueel om die verkoop van Elzabie se gesteelde Mazda CX5-motor glad te laat verloop.
Volgens die staat is Dan (83), Breggie (76) en Elzabie (54) op 26 Julie 2020 op ’n kleinhoewe buite Hartswater aangerand, ontvoer en vermoor. Hulle is omstreeks 13:00 laas by hul huis gesien en die volgende dag as vermis aangemeld. Verskeie besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en die silwer Mazda, was vermis.
Die polisie het die aand ná hul verdwyning van die verdagtes in hegtenis geneem wat in die Mazda op die N18-roete gevind is. Die rooi Nissan is verlate in ’n steengroef ontdek. Realeboga Manyedi, halfbroer van Tshepo Visagie, het later ’n staatsgetuie geword en die lyke uitgewys.
Dan en Elzabie se lyke is in die veld gevind, steeds met hul hande en voete vasgebind en bedek met lappe, en Breggie, toegedraai in ’n duvet, in ’n rotsspleet by ’n fontein.
Mpumlwana, van Rooiwal naby Taung, se medebeskuldigdes is Donald Seolesang (21) en Visagie (36), albei van Majaneng; en Tsepoane Melato (20) van Pudimoe.
Hulle word elk van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling aangekla. Hulle het na bewering die lyke in die veld rondom Taung versteek om die moorde toe te smeer. Seolesang word ook van ontsnapping aangekla, en Visagie van die verpand van ’n skootrekenaar en selfoon wat aan ’n oorledene behoort het.
In haar hoofgetuienis het Mpumlwana aangevoer dat sy die dag ná die moorde vir Seolesang, haar kleinneef, en drie onbekende mans by haar huis aangetref het. Hulle wou selfone en skootrekenaars by haar laai. Een van die kinders wat sy versorg, het ongevraagd ’n foto van haar met een van die selfone geneem, waaroor sy vies was.
Daarom het sy een selfoon en een rekenaar in haar kamer toegesluit. Die oorledenes se bankkaarte is ook later bo-op haar kas gevind. Sy ontken dat sy ooit ’n skootrekenaarsak of handsak van die oorledenes gesien het.
Intussen het sy vir Seolesang gevra of sy die motor, wat glo aan Visagie behoort, kan leen om ander kinders te gaan haal, en die mans aangesê om die “stowwerige” motor te was.
Hulle het brandstof gaan ingooi en is toe na die tradisionele geneser waar Seolesang hom wou konsulteer. Op pad om die kinders op te laai, is hulle deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem.
In kruisondervraging het Mpumlwana gesê sy weet nie hoekom die foon met haar foto daarop in haar besit gevind is met haar inhegtenisname nie. Sy het net haar eie foon op haar gehad. Vir haar was dit nie vreemd dat sy bevele uitdeel om ’n motor te was wat nie aan haar behoort nie.
Adv. Engelbrecht het dit aan haar gestel dat die motor reeds die vorige dag gewas is, maar dit was vir Mpumlwana van wesenlike belang dat dit skoon moet wees om verkoop te word. Die motor was volgens die staat met die slagoffers se bloed besmeer.
Sy ontken dat sy onderskeidelik aan haar broer en ’n vrou wat by die tradisionele geneser was, sou sê sy gaan die motor verkoop, en dat dit wit mense s’n was.
Mpumlwana ontken dat sy haar getuienis aanpas om haar weergawe te pas, met nuwe feite vorendag kom of haarself en haar meelopers weerspreek. Volgens haar het sy glad nie die foto van haarself met een van die oorledenes se fone geneem nie.
Die verhoor duur voort.


