Drie van die vier beskuldigdes op Woensdag 22 Mei is van links Donald Seolesang, Tshepo Visagie en Kgomotso Mpumlwana. Laasgenoemde is glo die meesterbrein van die voorval in Julie 2020 waarin Dan en Breggie Brand en hul dogter, Elzabie Brand, van hul kleinhoewe buite Hartswater ontvoer en vermoor is.

Foto: Charné Kemp

Byna vier jaar ná die ontvoering en grumoorde op Dan Brand en sy vrou, Breggie, en hul dogter, Elzabie Brand, op hul kleinhoewe buite Hartswater, gaan die staat en verdediging se betoë op 4 en 5 Julie in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor word.

Die getuienis teen vier beskuldigdes is Woensdag 22 Mei afgesluit met die getuienis van die laaste beskuldigde, Tsepaone Melato, in sy eie verdediging.

Melato se medebeskuldigdes, Donald Seolesang (24), Tshepo Visagie (40) en Kgomotso Mpumlwana (47) van Pudimoe, ontken voorts ook dat hulle die Brands se voertuie, selfone en skootrekenaar op Sondag 26 Julie 2020 gesteel het. Visagie word aangekla dat hy ’n skootrekenaar verpand en Seolesang dat hy ontsnap het.

Breggie se lyk is versteek in ’n grot naby Taung gevind, en Dan en Elzabie se lyke in ’n ander veld onder takke. Die beskuldigdes is die dag ná die voorval in een van die twee gesteelde motors in hegtenis geneem. Realeboga Manyedi, wat ’n staatsgetuie geword het, het die lyke aan die polisie uitgewys.

Tsepaone Melato op Woensdag 22 Mei in die getuiebank.

Melato het sedert hul vorige verskyning skynbaar ’n ommekeer gemaak en ontken nou enige betrokkenheid by die voorval. Aanvanklik het hy eenkant van sy medebeskuldigdes in die beskuldigdebank gesit. Toe Visagie in April getuig het, het Melato se regsverteenwoordiger aan Visagie verduidelik hoe die lyke van een plek na ’n ander met die motors verskuif is. Melato ontken nou dié stellings.

Adv. Mary-Ann Engelbrecht, aanklaer, het dit aan Melato gestel dat sy weergawe skielik ’n spieëlbeeld van sy makkers s’n is en dat hy die waarheid versin. In hul weergawe het Melato, Visagie en Seleosang daardie Sondagoggend gaan jag en by ’n gruisgroef op die twee motors afgekom. Hulle het die Mazda gevat omdat hulle die skootrekenaar en selfone daarbinne wou verkoop.

Die beweerde stof wat van die Mazda afgewas is, was inderdaad bloed, voer die staat aan. Die drie het voorheen by ’n buurman van die Brands gewerk vanwaar hulle die Brands se motors gesien het.

Mpumlwana het vroeër vandeesweek in haar getuienis ontken dat sy die meesterbrein is wat die motor wou verkoop en daarom ’n tradisionele geneser gaan spreek het om die verkoopstransaksie te seën.

You need to be Logged In to leave a comment.