Hartswater watersuiweringsaanleg.
Onveilige toestande met oop elektriese drade en elektriese kaste. FOTO: Verskaf

Die Phokwane-munisipaliteit in Hartswater se watersuiweringsaanleg is in ‘n toestand van ernstige agteruitgang, met gebrekkige infrastruktuur, asook gevaarlike oop gate en oop elektriese bedrading wat tot vuil en swak gesuiwerde water lei wat die gemeenskap bedreig.

Dit blyk uit ‘n video van Rickus Te Baerts, VF Plus-raadslid, waarin hy die swak toestand van die aanleg twee weke gelede uitgewys het. Dié beelde het die munisipaliteit warm onder die kraag en hulle genoop om dit te ontken, maar gemeenskapslede is skepties oor hul verduideliking.

Te Baerts sê ondanks die video “het ons steeds gereelde wateronderbrekings in al die woonbuurte sonder vooraf kennisgewing en die water is steeds vuil. By my huis het ek opgaartenks asook toerusting waarmee ek die munisipaliteit se kwansuis gesuiwerde water twee keer filtreer en met UV-ligte behandel. Ek doen dit omdat ek gereeld siek geraak het van die water. Anders as normaalweg moet ek die filters binne weke vervang omdat dit so verstop is van die modder en ander onsuiwerhede in die munisipale watertoevoer.”

Sedert hy sy video gemaak het, word hy verbied om by die watersuiweringsaanleg oorsigbesoeke te doen sonder dat hy deur ‘n amptenaar vergesel word.

Inwoners het woedend op die munisipaliteit se verklaring dat “die water van aanvaarbare gehalte en volgens vereiste standaarde is” reageer en gesê hulle bly in “Vrotwater, nie Hartswater” nie.

Die masjienkamers is vol stof, spinnerakke en oop elektriese bedrading maak die toestande onveilig. Foto: Verskaf

Proses van waterbehandeling het ‘ernstige tekortkominge’

Te Baerts het ernstige tekortkominge in die waterbehandelingsproses uitgewys. Die sandbanke, wat as primêre filters dien, is gekraak en dien geen doel meer nie. Hy sê dis die hoofrede waarom die water “geel en vuil” is.

Phokwane-munisipaliteit is al meer as ‘n jaar agter met die vervanging van die filters.

“Die pomp in die versinkingsdam, wat outomaties moet aangaan om afgesakte deeltjies te verwyder, is al ‘n jaar stukkend en moet met die hand aangeskakel word. Die outomatiese chloordoseringsmasjien is al geruime tyd buite werking. Chloorpille word in lemoensakke in die water gehang, sonder dat die regte hoeveelheid of doeltreffendheid bepaal word,” sê Te Baerts.

Volgens hom kon hy nie eens die chloor in die vertrek ruik nie, net ‘n “damreuk.” Die kamers is vol stof en spinnerakke, wat in die water kan beland. Oop elektriese drade lê op die nat vloere en strek teen mure op en af. Oral op die terrein is gate waar pype gebars het, asook ‘n kraal waar varke aangehou word.

LEES OOK: Net 22% van vullisterreine in land bedryf ‘verantwoordelike afvalbestuur’

In die kompressors-kamer waar geen ligte is nie, is werkers genoodsaak om met hul eie ligte te werk.

Die hoofpomp vir rou water, wat noodsaaklik is om water deur die hele sisteem te pomp, het uitgebrand en is steeds nie herstel of vervang nie ondanks herhaaldelike versoeke. Twee nuwe motors staan al lank ongebruik en word nie in werking gestel nie.

“Die oop sinkputte en gate hou ‘n veiligheidsrisiko vir mense en diere, in want die heining is stukkend nadat ‘n boom daarop geval het. Terugspoelwater word in die grond uitgelaat en vloei na die begraafplaas.”

Die pyplyn wat behandelde water na die opgaardamme moet pomp, is vol lekplekke. Stukkende pype lê die terrein vol.

“Die opgedamde stink water uit die lekplekke word weer opgesuig wanneer pompe aan- en afskakel word, wat lei tot waterverspilling en oneffektiewe pompwerking,” sê hy.

Weens onklaar toerusting word lemoensakkies met chloorpille daarin in die water laat sak om toediening te doen. Foto: Verskaf

‘Video is onakkuraat’

Kgalalelo Letshabo, munisipale woordvoerder, sê in ‘n verklaring Te Baerts se video is onakkuraat.

“Sy stellings oor onveilige en vuil water vol deeltjies kan lei tot onnodige kommer en misverstande. Onlangse laboratoriumresultate het bevestig die watergehalte voldoen aan die vereiste standaarde en is veilig vir verbruik.

“Die waterbehandelingsproses by die Hartswater-aanleg behels verskeie kritieke stappe om veiligheid en gehalte te verseker. Rou water word eers filtreer om sediment en deeltjies te verwyder. Ná filtrasie word die water ontsmet wat skadelike mikroörganismes verwyder voordat dit aan die gemeenskap versprei word.

“Prosedures is in ooreenstemming met regulatoriese standaarde en word gereeld gemonitor om nakoming en openbare gesondheidsvereistes te verseker.

“Die gemeenskap moet staatmaak op geverifieerde inligting oor watergehalte van amptelike munisipale kanale. Die munisipaliteit bly daartoe verbind om skoon en veilige water te verskaf.”

Letshabo het aan NoordkaapBulletin gesê hy sal die publikasie se vrae beantwoord wanneer hy terug op kantoor is.

Die sandbanke is lank reeds ondoeltreffend in die watersuiweringsproses. Foto: Verskaf

‘Water te vuil om te drink’

Verskeie inwoners het met misnoeë op Facebook op die munisipale verklaring reageer:

Bennie Liebenberg het gesê die munisipaliteit lieg: “Die watergehalte is vieslik, as dit beskikbaar is.”

Rita Zeelie du Preez het gekla en gesê sy bly nie in Hartswater nie, maar “in Vrotwater!”

Anna Sophia Phillipson sê “die water is te vuil om te drink en ons moet dubbel betaal want ons moet water koop.”

Volgens Kagisho Nako moet hulle die afgelope vyf maande ​​modderige water drink “en verkose raadslede is doodstil.”

Maleke Mahlomaholo sê die munsipaliteit se chemiese evaluering is “uitstekend, maar die mikrobiologiese analise is onaanvaarbaar is en hou ‘n ernstige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap in.

“Luidens die Bloudruppel-verslag is die onvermoë om water te behandel toe te skryf aan swak operasionele bedryf, gebrekkige infrastruktuur, onvoldoende dosering, die afwesigheid van ontsmettingschemikalieë, ‘n gebrek aan monitering en ‘n gebrek aan bedryfkundige kennis.

“Die munisipaliteit se jongste Bloudruppelverslag is die swakste ooit. Phokwane is beboet op twee geleenthede omdat hulle versuim het om die gemeenskap in te lig oor onveilige watergehalte.”

Donny Maphage daag munisipale amptenare uit om “ons kraanwater te drink. Hul verklaring is ʼn rekenaaroefening en hoogs lui en onbedagsaam.”

Thapelo Dyza Orapeleng het amptenare van vermetelheid beskuldig. “Wat in die video uitkom, is, is afgryslik. As julle nie eens buisligte kan vervang nie, hoe kan ons julle vertrou om water te suiwer?”

You need to be Logged In to leave a comment.