Donald Seolesang, een van vier beskuldigdes wat van moord aangekla word, rus op sy hande ná sy kruisondervraging verlede week in die hooggeregshof in KImberley afgehandel is.

Foto: Charné Kemp

Donald Seolesang (21), een van vier wat van die gru-moorde op Dan Brand (83), sy vrou, Breggie (76), en hul dogter, Elzabie Brand (54), op 26 Julie 2020 op hul kleinhoewe buite Hartswater aangekla word, was verlede week uitgeput nadat hy vier dae in die getuiebank deurgebring het.

Die meeste daarvan was hy onder kruisondervraging van die staat.

Hy het te telkens sy kop gekrap, stilgebly of geweier om vrae te beantwoord oor hoe dit gekom en wie besluit het om die Brands se motors te steel en verkoop.

Donald Seolesang, een van vier beskuldigdes wat van moord aangekla word, rus op sy hande ná sy kruisondervraging verlede week in die hooggeregshof in KImberley afgehandel is.

Soos sy medebeskuldigdes ontken Seolesang (21) die aanklagte teen hom. Die ander is Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpumlwana (43) en Tsepaone Malato (20).

Elk staar drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling in die gesig.

Seolesang word ook van ontsnapping aangekla, en Visagie dat hy na bewering ’n skootrekenaar en selfoon wat aan die oorledenes behoort, verpand het.

Die Brand-slagoffers is volgens die staat by hul kleinhoewe aangerand, ontvoer en vermoor.

Hulle is daardie Sondagmiddag die laaste keer omstreeks 12:00 by hul huis opgemerk, en die volgende dag as vermis aangemeld. Verskeie besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda, was vermis.

Die nag ná hul verdwyning het die polisie die verdagtes wat in die Mazda op die N18-roete gevind is, in hegtenis geneem.

Die rooi Nissan was verlate in ’n gruisgroef ontdek. Realeboga Manyedi, en ’n halfbroer van Visagie, het later ’n staatsgetuie geword.

Dan en Elzabie se lyke is in die veld gevind, steeds met hul hande en voete vasgebind en met lappe bedek. Breggie was toegedraai in ’n duvet, gevind in ’n rotsskeur by ’n fontein.

Seolesang het saam met Visagie op ’n tydstip op ’n kleinhoewe agter die Brands se erf gewerk, baie naby aan hul huis.

Hy ontken dat hy van die Brands of hul bedrywighede bewus was.

Hy voer aan hy, Visagie en Malato het op die betrokke Sondag gaan jag en op die twee verlate motors by die gruisgroef afgekom.

Hulle wou die skootrekenaars en selfone binne die Mazda verkoop. Visagie, wat volgens die staat van die bloed in die bagasiebak geweet het, het Manyedi gebel om hulle langs die pad met ’n emmer te ontmoet, want die Mazda moes opsluit gewas word.

Die Nissan is met ’n gebarste buiteband agtergelaat.

Hy ontken hulle het die motors tot daar gebring, of die een met die ander gesleep. Hy het ook ontken dat die Mazda se nommerplate met ’n vals een vervang.

Terwyl Seolesang volhou dat hulle die “aanstootlike” stof van die Mazda moes afwas, voer die staat aan dit was die slagoffers se bloed.

’n Buurvrou van die Brands het in ’n verklaring gesê dat sy op die betrokke dag die motors omstreeks 13:00 sien verbyry het.

Seoleseng wou nie kommentaar lewer op Van Heerden se stelling oor hoe eienaardig dit is dat wie-ook-al die motors by die Brands gevat het, dit dan ’n uur of twee later net so by die gruisgroef sal laat.

Boonop was die sleutels in die aansitters en selfone en skootrekenaars daarbinne gelaat; vir die beskuldigdes om te “ontdek”.

Seolesang het later die aand met hul inhegtenisneming uit die vangwa ontsnap en by Mpumlwana se huis skuilplek gesoek.

Daar het hy aan twee broers vertel hy en die ander beskuldigdes is in hegtenis geneem omdat hulle ’n motor van “wit mense by die plotte” gesteel het.

Hy het aan die broer gesê hulle wou die motor verkoop.

Sy DNS is op sy baadjie gevind, die een waarop Dan se bloed was.

Hy kon dit nie aan adv. Adele van Heerden, aanklaer, verduidelik nie.

In sy kruisondervraging het adv. Arno Nel, namens Malato, Seoloseng se weergawe weerlê.

Volgens Malato het hy twee lyke in die veld gesien, en hoe dit met die Mazda na ’n ander wegsteekplek verskuif word.

Hy het ook gesien hoe ’n vrouelyk uit die Nissan gehaal, en in die Mazda gelaai en na die klipskeur verskuif word.

Volgens hom was daar bloederige water toe die Mazda gewas is.

Waarnemende regter Cordelia Kgopa het die verhoor tot 24 en 25 April 2024 uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.