Allen Visagie (48), ’n “hartsmens” van Kimberley, is verlede week ná ’n siekte oorlede. Hy was sedert 2016 ’n inwoner van die Sally Aucamp-tehuis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede, en ’n boorling van Upington. Visagie was bekend vir die goeie dade wat hy vir ander gedoen het.
Op die NG kerk Du Toitspan-blog skryf Alda Welman: “Allen mog fisies gestremd wees, maar hy het nie gestremd gedink en uitgereik nie. Vanuit sy rolstoel was sy boodskap aan die mense wat sy pad gekruis het, kragtig.”
Hy het onder meer gesê ’n mens moet na jou hart luister en tyd maak om uit te reik, en was ook van mening dat “ ‘ag shame’ die lelikste woorde ooit is wanneer van ’n persoon met ’n gestremdheid gepraat word”.


