’n Groot feestelikheid wag op besoekers aan die Yonder Hartsfees in Kimberley, wat einde Augustus gehou word.

Dit word aangebied op die boomryke Malu-park, Yonder se feesterrein, waar grasperke en volop parkeerplek beskikbaar is.

Die pretpark, wat ’n mallemeule insluit, sal die jongspan lank besig hou. By ’n verskeidenheid stalletjies kan feesgangers uitsonderlike produkte aanskaf en ’n fees van heerlike eetgoed geniet. Die optrede van kunstenaars dra tot ekstra feestelikheid by.

Op Woensdag 24 Augustus om 18:00 word ’n ete by die Haakbosskerm bedien, met ’n vertoning deur Piet Pompies. Sitplek is beskikbaar by tafels geskik vir tien gaste. Die ete skep die ideale geleentheid vir besighede om hul kliënte of personeel te trakteer.

Snotkop tree op Donderdag 25 Augustus om 18:00 op, en ’n verskeidenheid kunstenaars deel die verhoog met hom.

Op Vrydag 26 Augustus om 19:00 deel Posduif, Christia Visser en Loufi die verhoog.

Dieselfde aand, van 19:00 tot 21:00, is Lizz Meiring in haar vertoning Kameras, konserte en kleedkamers te sien. Mathys Roets sal ook hiertydens optree. Dit word in die Yonder-saal aangebied, met toegang na die saal vanaf die hoofingang van Yonder.

Op Saterdag 27 Augustus om 09:00 vind die 5 km-kleurpretdraf plaas. Om 10:00 kan ’n oggendteeparty saam met Martelize Brink en Nicqie, Sarie Voorbladgesig 2020 en identiteitstileerder van Kimberley, bygewoon word. Die tema is “Leef jou geur”.

Die aand, om 19:00, tree Dr Victor, Leah en Heuning op.

Ollie die singende nar tree Donderdag, Vrydag en Saterdag by die Haakbosskerm op.

Koop kaartjies aanlyn op iTickets.co.za, of skakel 086-100-0291 om telefoniese besprekings te doen. Kaartjies sal ook by die toegangshekke na die feesterrein beskikbaar wees.

Vir toegang tot die feesterrein kan gesinne ’n bekostigbare gesinspakket oorweeg. Dié pakket sluit nie toegang tot kunstenaarsvertonings in nie.

Kaartjies vir die kunstenaarsvertonings sluit wel toegang tot die feesterrein vir die spesifieke dag in.

Besoek die Facebook-blad Yonder Hartsfees vir meer, asook die nuutste, inligting. Vind ook hier meer uit oor die vervoer wat na die feesterrein beskikbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.