Lewende Water: Hart en daad moet een wees

Ons het ongetwyfeld baie geleer tydens Covid-19-tyd.


Ons het ongetwyfeld baie geleer tydens Covid-19-tyd.

Ons het bewus geword van die onvoorspelbaarheid van die lewe, die interafhanklikheid van dinge, die broosheid van die stelsels waarin ons lewe.

Maar ook van kerkwees.

Ons het geleer dat die erediens nie die somtotaal van kerk is nie. Ons besef die kerk is nie die geboue nie, maar ’n gemeenskap van mense wat in verhouding met God en met mekaar leef. Dit is mense wat iets in gemeen het met ander – geestelik en fisiek.

So het ons deernis beleef met mense wat siek is, met families wat iemand aan die dood moes afstaan, met frontlinie werkers wat – ter wille van hul medemens – hulself aan gevaar blootstel, met mense wat geldelik swaarkry omdat hulle nie kan werk nie en daarom nie inkomste verdien nie.

Ons hartsbelewenis het ons liggaam in beweging gebring, en daarom het ons vir mekaar in die bresse begin tree.

Mense het kos en geld beskikbaar gestel om ander te versorg. Ons het die kerk in aksie geword.

Honderde duisende rande se kos het in hierdie moeilike tyd deur kerke beweeg na mense wat dit dringend benodig. Dit het ’n mens laat dink aan Jesus wat nie net vir die skares preek nie, maar hulle ook fisiek voed.

Tog het ons ongelukkig ook gesien dat ons samelewing onder die oppervlak steeds onafgehandelde seerplekke het. Ook hierdie sake moet deur gelowiges aangepak word.

Verhoudinge tussen rasse is steeds broos. Die Black Lives Matter-aangeleentheid en plaasmoorde het ons onvermoë om verby sekere dieperliggende vraagstukke te kom, blootgestel. Wat leer Covid-tyd ons hiervan, indien enigiets?

Ek dink ons betrokkenheid by ander moet nie net by skenkings bly nie; ons moet direkte blootstelling aan die leefwêreld van ander kry.

Ons moet nie net kos gee nie, maar dit ook saam met mense gaan eet, sodat ons kan ervaar wat regtig aangaan.

Só wys ons dat ons hart en ons dade één is.

You need to be Logged In to leave a comment.