Die o.18-rugbyspan van die Hoërskool Duineveld (Velties) in Upington het ’n uitstekende en oortuigende oorwinning oor die Hoërskool Upington (Uppies) behaal in die naweek se Groot Interjol tussen dié skole.
Die Velties verdien die sege van 29 – 23, maar maklik was dit nie.
Hulle moes hard inklim om ’n begeesterde Uppies-span tot oorgawe te dwing. Velties se swaarder en groter agttal het die deurslag gegee, maar Uppies se ingesteldheid vir ’n harde stryd het hardnekkige karakter gewys.
Stefan van Wyk, Velties se eerstespanafrigter, was ná die sege ’n baie tevrede man. Rican Kotze, oudskoolhoof en hulpafrigter van Uppies, was trots op sy span se vernuf en karakter wat deurgaans getoon is.
Onder die wenspan se gedugte agttal het die slot en kaptein, Ean le Riché, in die lynstane uitgetroon.
Velties se los trio – Gert Grobbelaar, Alek Andrianatos en Freddie Collen – was uitstaande op verdediging.
In die agterlyn het Shamaro de Klerk, Jacquin Jasson en Gregan Jansen vir Uppies hoofbrekens besorg met knaende aanvallende bewegings agterlangs.
Uppies se agterlyn het by tye skitterend verdedig en die senterkombinasie van Siphe Msebenzi en Sylvester Hofmann het uitgeblink. Emlyhn Jacobs en Neil Petro, Uppies se skakelpaar, het vir Velties na vars lug met dartellopies laat gryp.
In die laaste tien minute het Uppies sterk teruggeveg om ’n skitter-drie deur Siphe af te rond.
Puntemakers
Velties 29 (19) – Drieë: Ravian Wessels, Shamrock de Klerk, Jacquie Jasson en Ethan van Zyl (2); Doelskoppe: DJ Wandrag (2).
Uppies 23 (13) – Drieë: Kayalenkosi Maganga en Siphe Msebenzi; Strafdoele: Ruwin Isaks (3); Doelskoppe: Ruwin Isaks (2).


