Grondeienaars moet in November en Desember, die tyd wanneer jong roofvoëls begin vlieg of op hul eie begin jag, op die uitkyk wees vir beseerde voëls en dadelik veeartse of natuurlewe-organisasies inroep.
Roofvoëls in die algemeen word bedreig en elke voël wat gered kan word, is ’n goeienuusstorie.
Ronelle Visagie, ’n koördineerder van die Natuurlewe Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) in die Noord-Kaap sê mense moet ingelig wees oor wat om te doen wanneer hulle ’n roofvoël teëkom.
“Oorhoofse kraglyne bly ’n groot bedreiging. Kragonderbrekings gebeur partykeer wanneer ’n voël met ’n kraglyn bots. Buiten die geldelike verlies, is die verlies aan voëls soos breëkoparende, kransaasvoëls, lelkraanvoëls, sekretarisvoëls, gompoue en bloukraanvoëls tragies. Die lelkraanvoël is in ernstige gevaar om uit te sterf en die verlies van ’n enkele voël het ’n nadelige uitwerking op hul oorlewing.
“Die EWT en Eskom het saamgespan om botsings en dodelike skokvoorvalle te verminder, wat gereelde verslaggewing en ondersoeke vereis. Strukture wat in die toekoms opgerig word moet so voëlvriendelik as moontlik wees.”
Voëls vlieg tussen slaapplekke en weidingsgebiede. Indien die vlugroetes deur valleie of laagliggende gebiede gaan waar ‘n kraglyn is, kan botsings plaasvind. Dié groot en swaar voëls kan nie altyd betyds uitswenk nie. Die hoek waaruit die voëls kyk, kan ook ’n rede wees waarom hul nie die lyne sien nie, sê Visagie.
’n Voël wat nie wegvlieg as mense hom nader nie, het beslis hulp nodig.
Raad vir diegene wat op beseerde voëls afkom is om honde weg te hou. Sit ’n lap of stuk mat op ’n boks se bodem sodat die voël nie gly nie. Wees versigtig vir die voël se kloue en snawel. Plaas ’n handdoek of klein kombers oor die voël en oor sy oë.
Plaas jou hande oor albei vlerke met jou duime in die middel van die voël se rug soos jy ’n rugbybal vashou. Druk die voël sagkens plat op die grond terwyl jy die vlerke teen die lyf hou, tel die pasiënt op en plaas dit in die houer.
Beseerde voëls moet op ’n stil, donker plek gehou word waar dit nie verder beseer kan word nie. Moenie die voël onnodig hanteer of vir ander mense wys nie, want dit veroorsaak baie stres waarvan die voël kan doodgaan.
Jong roofvoëls soos uilkuikens val soms uit neste. Die beste is om op ’n afstand te bly om die kuiken waar te neem, sodat die ouers nie stres nie. Dit hou hulle van die nes weg. Die uil-ouers sal eers teen skemer terugkeer. Plaas die kuiken terug in die nes indien jy kan. Dit is onwaar dat die mens se reuk veroorsaak dat die ouers die kuiken verwerp.
Slegs indien die kuiken se lewe in gevaar is, kan die kuiken verwyder word.
Skakel ’n rehabilitasiesentrum om die voël te rehabiliteer. Moenie die roofvoël self probeer grootmaak nie. Mense wat op dooie of beseerde voëls afkom, kan aan Oscar Mohale van die Natuurlewe en Energie Program (WEP) van die EWT by oscarm@ewt.org.za skryf of 011-372-3600 skakel Visagie se nommer is 072-995-5788.
’n Veearts sal die beseerde voëls ondersoek en vir ’n persoon met die nodige permitte gee, wat die voël sal versorg totdat dit genoegsaam herstel het om vrygelaat te word.
Bykomende bron: Ben Hoffman